Hofuitspraak baan die weg teen regstellendeaksiesake

ʼn Verdoemende uitspraak deur die Johannesburgse arbeidshof, waarin die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se regstellendeaksieplan as ʼn kwotastelsel bestempel word, baan die weg vir Solidariteit se regstellendeaksiesake teen die polisie en ander staatsdepartemente. Die arbeidshof het beslis dat die applikant, ʼn Indiërvrou, terugwerkend aangestel moet word in die pos waarvoor sy aansoek gedoen het. Sy is vroeër weens regstellende aksie nie in die pos aangestel nie.

Dirk Groenewald, woordvoerder van Solidariteit, sê die hofsaak is nie deur Solidariteit gedryf nie, maar baan die weg vir die vakbond se verskeie sake teen die SAPD. “Die arbeidshof se uitspraak strook met die Wet op Gelyke Indiensneming wat die gebruik van kwotas verwerp. Volgens die uitspraak het ʼn kwotastelsel tot gevolg dat daar in praktyk grade van benadeling geskep word en dat dit nie toelaatbaar is nie, aangesien regspraak en wetgewing voorsiening maak vir billike verteenwoordiging wat ʼn konkrete en gekontekstualiseerde benadering vereis. Volgens die uitspraak moet daar van ʼn meganiese benadering afgewyk word,” het Groenewald gesê. Solidariteit het in Junie vanjaar stukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien waarin die hof gevra word om die SAPD se regstellendeaksieplan in die geheel ongeldig te verklaar. In sy stukke fokus Solidariteit op die SAPD se toepassing van kwotas volgens die nasionale rassedemografie. Hierdie optrede het gevolg nadat Solidariteit die SAPD reeds in 17 afsonderlike sake, waaronder die Renate Barnard-saak, hof toe geneem het.

Groenewald sê die SAPD het, soos met sy sake teen Solidariteit, in die hof aangevoer dat sy poste per rasgroep en daarna volgens geslag verdeel word. Dié wiskundige rassebenadering het byvoorbeeld tot gevolg dat daar op verskeie posvlakke geen poste vir Indiërs beskikbaar gemaak word nie. “Die hof het bevind dit ondermyn die grondwetlike doelwit van gelykheid en in plaas daarvan om nierassigheid te bevorder, dit eerder “perverse” wedywering tussen rasgroepe tot gevolg het. Die regter het verder in sy uitspraak gesê dat billike indiensneming daarop gemik is om die effek van vorige diskriminasie teen lede van die aangewese groep reg te stel, en nie om nuwe de facto-hindernisse tot indiensneming te skep nie. Volgens Solidariteit se hofstukke kom die SAPD se regstellendeaksieplan neer op maatskaplike manipulasie gebaseer op blatante ras- en geslagskwotas,” sê Groenewald.

Solidariteit se regstellendeaksiesake teen die SAPD is intussen uitgestel totdat ʼn finale uitspraak in die Renate Barnard-saak gekry is. Die vakbond het in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein verlof gekry om teen die arbeidsappèlhof se beslissing in dié saak te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.