Jagongeluk: Man aangekla ná vriend se dood

JP Kleingeld Foto: Facebook

Gerhardus Johannes Wiggill (63), wat daarvan beskuldig word dat hy die geweerskoot gevuur het wat tot Juan-Pierre Kleingeld (24) se dood gelei het, het Woensdag in ʼn Limpopo-hof verskyn, berig Beeld.

“Wiggill het op ʼn klag van moord verskyn, maar dit is deur die staatsaanklaer na strafbare manslag verander,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê. Wiggill is op borgtog van R5 000 vrygelaat en sal weer in September in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Kleingeld het tydens ʼn jagsessie op 12 Julie ʼn bakkie bestuur en vriende het agterop die bakkie gestaan. ʼn Skoot van ʼn .308-jaggeweer het afgegaan en hom in die kop getref. Hy is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem en het verskeie operasies ondergaan. Hy het egter in ʼn koma gebly tot en met sy dood.

“Ons is baie jammer vir die man en blameer niemand nie. Daar is nie woorde nie. Dit was ʼn ongeluk,” het Kleingeld se pa, Aldré, aan die koerant gesê.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.