JHB-brand: Petrol moontlik die oorsaak

Die Cape York-gebou in Johannesburg

‘n Ooggetuie wat binne die gebou was waar ‘n brand vanoggend in Johannesburg se middestad uitgebreek het, vermoed dat brandstof moontlik die oorsaak kan wees, berig EWN.

Die brand het omstreeks 04:30 op die sewende verdieping van die Cape York-gebou op die hoek van Jeppe- en Nuggetstraat in Johannesburg uitgebreek.

Precious Riuzengwe het aan EWN gesê sy het Vrydagaand wakker geword en haar woonstel se vloer was met petrol bedek wat van haar bure af gekom het. Die woonstelle is slegs deur afskortings van mekaar geskei. Riuzengwe het aan EWN gesê haar buurvrou se man het gedreig om haar te vermoor.

“Ons het die persoon oorkant ons gevra wat gebeur, en sy het gesê dis haar man wat haar aan die brand wil steek,” het sy gesê. Riuzengwe voer aan die buurvrou se man is verantwoordelik vir die brand waartydens minstens vier mense dood is.

Honderde families met jong kinders het Saterdagoggend buite in die koue op die sypaadjie gesit nadat hulle alles verloor het wat hulle besit het.

Maroela Media het vroeër berig twee volwassenes en ‘n baba is in die brand dood. ‘n Vierde persoon, wat uit ‘n venster gespring het om te ontsnap, het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Drie ander persone is in ‘n ernstige, maar stabiele toestand.

Die omliggende strate is steeds vir verkeer gesluit en owerhede ondersoek die oorsaak van die brand.

Lees ook:
Vier sterf in JHB-brand
Twee in brandende gebou vasgekeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.