Kaapstad-man sterf in Viëtnam van insekbyt

Paul Underwood Foto: Facebook

Paul Underwood, ‘n joga- en fiksheidsinstrukteur van Kaapstad is in Viëtnam dood nadat ‘n insek hom gebyt het.

Underwood (39) was met vakansie in Phong Nha Farmstay in Viëtnam toe ‘n insek, wat nie uitgeken is nie, hom gebyt het, berig Cape Times. “Hy was Maandag onderweg na ‘n hospitaal in Danang omdat hy ‘n hoë koors ontwikkel het en nie lekker gevoel het nie. Hy was egter te siek om so ver te reis en Ben, ‘n vriend, het voorgestel dat hy na die Hoan My International-kliniek in Hue moet gaan,” het Paul Henderson, wat saam met Underwood was, in ‘n brief aan Underwood se familie gesê. “Paul het gesukkel om asem te haal en hy het gesweet. Hy het gesê hy is op 26 Desember gebyt.”

Volgens Henderson het die virus baie vinnig in sy liggaam versprei. Sy ledemate het begin verkleur en prikkels in sy vingers gevoel. “Om 19:30 het hy gesê dat hy ‘n vriend by die huis oor sy toestand in kennis gestel het.” Sowat 30 minute later het die dokters glo ‘n asemhalingstoestel op Underwood geplaas. “Ek was in die kamer toe die dokters probeer het om sy hart weer te laat klop. Hulle het lank probeer en ek kan die hartseer onthou toe hulle uiteindelik opgehou het.”

Cape Times berig verder Underwood se vriend, Michael Stevenson, is Donderdag na Viëtnam om sy oorskot terug te bring huis toe. “Paul was ‘n vrygees, het wêreldwyd gereis en het meditasie en branderplankry geniet,” het Stevenson glo gesê.

Klik hier om die oorspronklike Cape Times-berig te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.