Kapingsvideo: Vier mans vasgetrek

Foto: YouTube

Foto: YouTube

Vier mans is in hegtenis geneem in verband met die kaping van ʼn familiemotor in Johannesburg se middestad. Kringtelevisiebeeldmateriaal van die kaping is oral op sosialemedia-netwerke versprei.

“Die mans word tans deur die polisie ondervra en die gesin se silwer Toyota Rav4 en ʼn Toyota Corolla is Woensdag opgespoor,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, Donderdag gesê. “Die ondersoek duur voort, aangesien nog mense moontlik betrokke kan wees.”

Die polisie ondersoek tans vier kapings in die middestad van Johannesburg wat ook op beeldmateriaal vasgevang is. Die mans kan moontlik ook aan dié misdade verbind word.

Die beeldmateriaal word tans analiseer om die kapers en vuurwapens te identifiseer.

Die gesin is op 16 November op die hoek van Commissioner- en Crownstraat gekaap.

“Een motor het die gesin se voertuig verbygesteek terwyl hulle by ʼn verkeerslig stilgestaan het,” het Obakeng Mabaso, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die kapers het reg voor die familie se voertuig gestop en ʼn tweede motor het agter hulle stilgehou. Twee mans uit die een voertuig en twee uit die tweede voertuig het uitgeklim en die gesin gedwing om hul voertuig te verlaat.”

Die kapers het twee selfone en R10 000 kontant gebuit. Twee van die aanvallers was gewapen.

Klik hier om die video van die kaping te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tim ·

In hoeveel moeilikheid sal jy wees as jy verby so ‘n situasie ry en besluit om die persoon om te ry / raak te ry wat die outomatiese vuurwapen vashou?

Ek weet mens is veronderstel om net saam te werk met die kapenaars vir jou en ander se veiligheid, maar wat as adrenalien inskop? Fight or flight soos hulle in Engels sê.

Sal jy aangekla word vir strafbare manslag en tronk toe gaan of erkenning kry dat jy vir jou land se mense opstaan en vir vrede en patriotisme staan?

Ek wonder maar net indien so iets rondom my sou gebeur.

Peter Says ·

Tim, ek voel dieselfde, daar sal natuurlik lang uitgerekte hofsake wees, maar ek persoonlik dink n mens sal daarmee kan wegkom, my beskeie mening.

Kenko ·

Tim, as ek in so ‘n situasie beland mag skok dalk intree, en ek die petrolpedaal ipv. van rempedaal intrap. Ongelukkig vir die kaper….Toe ek die video ‘n dag of wat terug gesien het, het daardie selfde gedagtes gespeel, maar nie uit skok nie eerder uit woede. Goeie werk deur SAPD.

Deana ·

Mens kan net hoop en bid vir meer deurbrake en skuldigbevindings.
Tim, ek hou van jou denkvermoë, maak beslis sin.

Tim ·

Jammer die korrekte woord is *kapers, nie kapenaars nie!

Ek is ongelukkig nie ‘n kenner op die gebied nie, maar dit voel vir my asof daar al hoe meer van hierdie kapings plaasvind, juis omdat mense gevra word om net terug te staan as dit met jou gebeur.

Wonder of ‘n mens nie ‘n wet of iets kan optrek wat ‘n bystaner beskerm indien die persoon saam staan teen die kapers nie.

Seker dit sal hulle twee keer laat dink…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.