Karabus onskuldig bevind

Prof. Cyril Karabus

Die hof in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het prof. Cyril Karabus onskuldig bevind, het die departement van internasionale betrekkinge Donderdag gesê.

“Hy was vandag in die hof en is onskuldig bevind,” het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, gesê. “As Suid-Afrikaanse regering is ons baie dankbaar dat hy uiteindelik ‘n vry man is.”

‘n Mediese hersieningskomitee van die VAE het vroeër die week Karabus van alle aanspreeklikheid vrygestel. Karabus (77), ʼn pediatriese hematoloog van Kaapstad, is in 2003 in sy afwesigheid verhoor en aan strafbare manslag skuldig bevind na die dood van ʼn driejarige leukemielyer wat hy vir ʼn kort ruk in die VAE behandel het. Hy is in sy afwesigheid tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Onbewus van die aanklagte en vonnis, is hy op 18 Augustus 2012 in Dubai in hegtenis geneem terwyl hy op pad terug was na Suid-Afrika na hy sy seun se troue in Kanada bygewoon het.

Monyela sê die Suid-Afrikaanse regering het verskeie stappe gedoen om Karabus se saak aan te help. “Ons beskou dit as ‘n regverdiging van dít wat die professor die heeltyd gesê het,” het Monyela gesê. “Ons voel geregtigheid het plaasgevind.” Monyela het alle betrokke partye bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.