Kindermoord: Ma in hegtenis geneem

Argieffoto

Argieffoto

Die ma van twee kleuters, wat Woensdag dood aangetref is in ʼn veld in Gauteng, is Donderdag in hegtenis geneem.

Die 26-jarige Mosambiekse vrou en haar twee dogtertjies, onderskeidelik een en drie jaar oud, is Woensdagoggend deur inwoners in ʼn oop stuk veld naby Zonkizizwe in Katlehong, oos van Johannesburg, gevind. Die twee dogtertjies was reeds dood en die ma is in ʼn ernstige maar stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem.

Volgens die ma het sy en haar man ʼn argument gehad nadat sy hom glo met ʼn ander vrou betrap het. Sy en haar kinders het glo in Emalahleni (Witbank) gebly, maar haar man het hulle Dinsdag in die veld afgelaai waarna hulle in ʼn bouval moes oornag. Haar man het glo ook ʼn bottel koeldrank by hulle gelos wat hulle Dinsdagaand gedrink het. Sy sê haar kinders was reeds dood toe sy die volgende oggend wakker geword het.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn Gautengse polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê verdere ondersoek oor die dogtertjies se dood het tot die ma se inhegtenisname gelei en dat daar teenstrydighede in haar verklaring was. “Haar oorspronklike verklaring was vals. Die polisie het ook verskeie ooggetuies ondervra wat bevestig dat sy nie van Emalahleni is nie, en dat haar familie in Zonkizizwe  woon,” het Dlamini gesê.

Die pa van die kinders is ook intussen opgespoor en het ʼn verklaring aan die polisie oorhandig.

Die kinders is vermoedelik vergiftig. Die oorsaak van hul dood sal met ʼn nadoodse ondersoek vasgestel word.

“Die ma staar twee aanklagte van moord in die gesig,” het Dlamini gesê. “Sy is nou onder polisiebewaking by die Natalspruit-hospitaal.”

Die motief vir die moorde is moontlik weens konflik tussen die ma en die pa.

Lees ook:
Kindermoord: Ma se weergawe bevraagteken
Nóg twee kleuters in Gauteng vermoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.