Sewe groot konstruksie- en ingenieursmaatskappye het glo in 2006 in die geheim ontmoet om tenders vir Wêreldbeker-stadionprojekte te allokeer en om op ʼn 17.5%-winsgrens ooreen te kom, het die Cape Times Dinsdag berig.
Die aktiwiteite van Grinaker LTA, WBHO, Murray & Roberts, Group Five, Concor, Basil Read en Stefanutti het glo aan die lig gekom deur ooreenkomste en boetes, wat die maatskappye ingestem het om te betaal ná ʼn ondersoek deur die Mededingingskommissie oor samespanning in die bedryf.
Volgens die Cape Times het die maatskappye ʼn ooreenkoms bereik wat verband hou met die konstruksie van die 2010 Fifa Wêreldbekerstadia, waarvolgens hulle ingestem het om die tenders vir Mbombela-, Peter Mokaba-, Moses Mabhida-, Soccer City-, Nelson Mandela Bay-, en Groenpunt-stadia onder hulself te allokeer.
Die koerant berig dat verskeie maatskappye, insluitend Group Five, Murray & Roberts, Stefanutti Stocks en Aveng ook ʼn groep genaamd Western Cape Building Market opgerig het om kontrakte vir drie van die grootste bouprojekte in die provinsie onder mekaar te verdeel. Dit sluit die R4.5 miljard-stadion in Kaapstad, die R87 miljoen Graca Machel-saal by die Universiteit van Kaapstad en die Bergrivier-waterprojek in Franschhoek in.
Altesaam 15 maatskappye het glo erken dat hulle met 300 projekte landswyd gekonkel het, maar hulle is slegs vir 145 projekte beboet, aangesien die ander projekte buite die periode van ondersoek geval het.
-SAPA