Lewenslank plus 1 000 jaar tronkstraf vir Cleveland-ontvoerder

Ariel Castro

Ariel Castro, wat drie vroue vir 10 jaar lank in sy huis in Cleveland, Ohio aangehou en hulle herhaaldelik verkrag en aangerand het, het die doodsvonnis vrygespring deur skuldig te pleit in ‘n ooreenkoms wat hom lewenslank agter tralies sal hou.

Amanda Berry, Gina DeJesus en Michelle Knight het op 6 Mei vanjaar uit Castro se huis ontsnap. Berry het Castro se kind gehad in die tyd wat sy in aanhouding was. Knight het vyf miskrame gehad nadat Castro haar uitgehonger en in die maag geslaan het. Een van die vroue is onder andere ook met ‘n stofsuier se koord gewurg toe sy wou ontsnap.
Castro het aan die regter gesê hy is verslaaf aan pornografie, het ‘n “seksuele probleem” en was self ook ‘n slagoffer van seksuele mishandeling jare gelede.

Hy het skuldig gepleit op 937 klagtes in die ooreenkoms wat lewenslange tronkstraf, sonder die moontlikheid van parool, plus 1 000 jaar tronkstraf insluit.

Die regter het die pleitooreenkoms aanvaar en Castro skuldig verklaar.

Die vroue het in ‘n verklaring gesê hulle is verlig deur die skuldigbevinding. “Hulle is tevrede met dié oplossing,” lui die verklaring wat namens hulle uitgereik is. Die vroue word gevolglik nie aan ‘n uitgerekte hofsaak blootgestel nie.

Die vroue het tussen 2002 en 2004 verdwyn toe hulle onderskeidelik 14, 16 en 20 jaar oud was. Hulle het gesê hulle het ‘n rygeleentheid van Castro aanvaar. Castro het glo vriende gebly met een van die vroue se families en het selfs nagwake bygewoon wat oor die jare heen op die dag van hul verdwyning gehou is.

Die vroue het ontsnap toe Berry ‘n deur kon afskop en ‘n buurman se hulp ontbied het. Castro is binne ‘n paar uur in hegtenis geneem en het in aanhouding gebly.

McGinty sê die staat sal die meer as $20 000, waarop die polisie in Castro se huis beslag gelê het, gebruik om sy huis te sloop. Twee verlate huise aan weerskante van sy huis sal ook gesloop word en die gebied sal dan as ‘n parkie ingerig word.

Lees ook:
Pleitooreenkoms vir Cleveland-ontvoerder; huis word moontlik gesloop
Video: Cleveland se ontvoerde vroue bedank die publiek
Besonderhede van Cleveland-ontvoering bekend gemaak
Vyf miskrame vir ontvoerde vrou
R72 miljoen borg vir vermeende ontvoerder
Video: Vroue 10 jaar ná ontvoering gevind

Die huis in Seymourlaan 2207, Cleveland, Ohio, waar die vroue aangehou is. ‘n Heining is nou rondom die huis gespan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.