Só lyk die watersituasie in Madibeng en Suid-Afrika

advertensiebordDie waterprobleme en gepaardgaande betogings in die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes het gepaardgegaan met ʼn groeiende bevolking en onderbesteding op die infrastruktuurbegroting, het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) Woensdag gesê. Na aanleiding van ’n ANC-plakkaat in Pretoria wat foutiewe inligting oor watervoorsiening in Suid-Afrika bevat, het die SNI ook ʼn tabel en feitestel wat lig op die saak werp, beskikbaar gemaak.

Madibeng-munisipaliteit

Eugene Brink, senior navorser by die SNI, sê die Madibeng-munisipaliteit se bevolking het van 2001 tot 2011 met 37,9% toegeneem:

  • Die munisipaliteit se bevolking was in 2001 ongeveer 348 000 mense en in 2011 was dit nagenoeg 480 000 mense.
  • Hoewel kraanwater in die munisipaliteit volop is, het slegs 29% van die inwoners kraanwater in hul wonings, 43% het kraanwater in hul erf terwyl 16% van inwoners kraanwater vanaf ’n gemeenskaplike kraan buite hul erf kry.
  • Luidens ’n onlangse verslag deur Kimi Makwetu, die nuwe ouditeur-generaal, het die Madibeng-munisipaliteit sowat R35,5 miljoen van sy munisipale infrastruktuurtoelaag (MIT) nie bestee nie. Die MIT verskaf finansiering vir nuwe infrastruktuur en die rehabilitering en opgradering van bestaande infrastruktuur.
  • Die munisipaliteit het tydens die laaste metingsrondte in 2012 ’n Blou Druppel-telling, wat die gehalte van drinkwater meet, van slegs 57,93% ontvang. Die munisipaliteit beklee die 103de posisie uit 153 munisipale entiteite wat tellings ontvang het.
  • In 2011 was die munisipaliteit se telling 36,72% en toe was dit in die 114de posisie.

Die SNI reik periodiek sy Leefbaarheidsmonitor vir die onderskeie provinsies uit. Hierdie verslae meet die leefbaarheid in die land se munisipaliteite aan die hand van aanwysers soos demografie, sosio-ekonomiese eienskappe, dienslewering en bestuur. Die Leefbaarheidsmonitor vir Noordwes sal in 2014 die lig sien en die Madibeng-munisipaliteit sal grondig daarin ontleed word.

ANC-plakkaat

In George Storrar-rylaan in Pretoria word tans ’n groot advertensiebord vertoon waarop die ANC ʼn foutiewe stelling oor watervoorsiening in Suid-Afrika maak. Die plakkaat lui soos volg: “1994: 10% of our communities had access to safe water. 2013: more than 92% of our communities have access to safe water.”

Paul Joubert, senior navorser by die SNI, sê beskikbare inligting uit huishoudingsopnames in 1995 en 2012 dui op die teendeel:

  • In 1995 het 79,7% van die ongeveer 8,8 miljoen huishoudings toegang tot lopende water binne-in hul wonings (51,4%), op die perseel (20,2%) of by ʼn gemeenskaplike kraan (8%) gehad. Die standaard van watervoorsiening is deur 66,9% van huishoudings as altyd voldoende beskou.
  • In 2012 was die persentasie van die 14,6 miljoen huishoudings wat oor dieselfde toegang tot water beskik het 8,2 persentasiepunte hoër, oftewel 87,9%. Sowat 44,5% van huishoudings het lopende water in hul wonings gehad, 27,7% op die perseel en 15,8% by ʼn gemeenskaplike kraan. Slegs 60,1% van huishoudings het die water egter as van goeie gehalte beskou.

“Hierdie inligting weerlê die stelling dat slegs 10% van Suid-Afrikaanse gemeenskappe in 1994 toegang tot veilige water gehad het. Hoewel ʼn ietwat groter persentasie van Suid-Afrikaanse huishoudings in 2012 toegang tot lopende water gehad het, blyk dit dat die standaard van tevredenheid met die gehalte daarvan afgeneem het,” sê Joubert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

nikolaas pienaar ·

Dis dalk so n effense pedantiese taaltegniese interpretasie:
maar wanneer die bord sê “our communities” val die klem dalk juis op landelike gebiede wat voorheen geen toegang tot water gehad het nie.
As dit alle gemeenskappe ingesluit het, sou die plakaat dal eerder “all communities” gelui het.

Paul ·

Goeie opmerking, maar selfs al interpreteer mens dit op daardie geforseerde manier, is dit wat op die bord staan ook glad nie korrek nie. Selfs in landelike gebiede het meer as 50% van huishoudings, verspreid oor alle “communities” toegang tot veilige lopende water gehad in 1995.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.