Madiba: Konflik glo tydens begrafnis-vergadering

Plakkate, foto’s, boodskappe, skilderye, beterskapkaartjies en blomme buite die Medi-Clinic harthospitaal waar Madiba behandel word Foto: Werner Beukes/SAPA

Een van oud-president Nelson Mandela se kleinseuns, Mandla Mandela, het Dinsdag glo uit ʼn familie vergadering in Qunu, in die Oos-Kaap, gestorm ná ʼn meningsverskil oor waar Madiba begrawe moet word, sou hy sterf.

Drie verskillende bronne het glo aan The Star gesê die woordewisseling het plaasgevind omdat Mandla versoek het dat Mandela in sy geboorteplek, Mvezo, begrawe moet word. Die res van die familie voel egter dat Madiba se wense om langs sy kinders in Qunu begrawe te word, gerespekteer moet word.

The Star het Woensdag berig dat die vergadering gehou is om ʼn “belangrike familiesaak” te bespreek.

Mandla Mandela, Thanduxolo Mandela, Ndaba Mandela, Ndileka Mandela en hoofde van die Abathembu koninklike gesin het die vergadering bygewoon. Bantu Holomisa, UDM-LP, en Lindiwe Sisulu, minister van staatsdiens en administrasie, was ook teenwoordig.

Die Times het Woensdag berig ʼn groep stamhoofde beplan om vandag Gauteng toe te vlieg en Mandela se toestand te evalueer en te besluit wat om verder te doen.

Intussen ʼn het groot groep mense en media voor die Medi-Clinic Harthospitaal in Pretoria begin saamdrom waar Mandela glo vir die derde dag kritiek is. Mandela (94) is op 8 Junie in die hospitaal opgeneem vir ʼn herhalende longkwaal en was tot en met Sondag in ʼn “ernstige maar stabiele toestand.”

Die publiek dra blomme, boodskappe van bemoediging en beterskapkaartjies aan. Kerse word ook in sy eer gebrand.

Veiligheid by die hospitaal is opgeskerp, asook by die oud-president se huis in Houghton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.