Malema geskors, moet uittree as leier

ANc-jeugligaleier, Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, is uit die party geskors en moet afstand doen van die leierskap.

Die ANC se nasionale dissiplinêre komitee (NDK) het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie bekendgemaak dat Malema vir vyf jaar uit die party geskors is nadat hy op twee van die drie aanklagte teen hom skuldig bevind is. Malema is skuldig bevind op aanklagte dat hy die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die party gesaai het. Die aanklagte hou verband met Malema se uitlatings dat die ANC-jeugliga ‘n span na Botswana sal stuur om regime verandering te weeg te bring. Die voorsitter van die NDK, Derek Hanekom, sê Malema se uitlatings oor Botswana was “roekeloos”.

Malema en vyf van sy kollegas is ook skuldig bevind op aanklag dat hulle ongenooid by ʼn vergadering van die ANC opgedaag en dit ontwrig het. Hulle is vir twee jaar uit die party geskors. Die skorsing is egter opgeskort vir ʼn tydperk van drie jaar. Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal, en Pule Mabe, tesourier-generaal is ook aangekla en skuldig bevind. Magaqa is ook skuldig bevind op ʼn tweede aanklag rakende ʼn verklaring wat hy uitgestuur het oor die minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba. Magaqa is vir 18 maande geskors, wat vir drie jaar opgeskort is. Hy moet ook binne 5 dae in die openbaar om verskoning vra aan Gigaba.

Die ANC-jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, is skuldig bevind op aanklag dat hy ʼn verslaggewer gevloek het. Hy is vir drie jaar geskors en onmiddellik uit die jeugliga se nasionale uitvoerende komitee geskors. Daar is onder meer aangevoer dat Shivambu se gedrag ʼn negatiewe impak gehad het op die party en die land in geheel.

Hanekom sê geen van die aangeklaagdes het ontken dat hulle die uitlatings, waarvoor hulle aangekla is, gemaak het nie. Hanekom sê elke aangeklaagde se uitspraak is honderde bladsye lank en behels besonderhede rakende die pleitproses en ʼn opsomming van getuienis. Hy het ook verwys na die strukture binne die ANC en die prosesse wat gevolg moet word wanneer dissiplinêre aksie teen lede geneem word. Hanekom het van die argumente voorgehou wat tydens die verhoor aangehoor is. Hy sê daar is onder meer deur die beskuldigdes aangevoer dat die ANC sy alliansievennote anders hanteer as sy ander liga’s. Hanekom sê die argumente is verwerp.

Hanekom sê die NDK het in privaatheid oor Malema en sy kollegas se straf besluit. Hy sê hulle is voor die tyd van die besluit in kennis gestel en ook dat hulle die geleentheid het om teen die beslissing te appelleer. Hanekom het na die ANC se grondwet verwys en gesê dit moet ten alle tye nagekom word. Hy sê dissipline is nie onderhandelbaar nie. Hanekom het na die ANC-jeugliga se grondwet verwys en gesê die jeugliga is nie onafhanklik van die regerende party nie. Hy het ook verwys na die gewelddadige optogte voor Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad met die aanvang van Malema se verhoor. Hanekom het ook sy kommer uitgespreek oor uitsprake deur verteenwoordigers van jeugliga-verteenwoordigers gedurende die verhoor. Die groep kan nou binne 14 dae by die nasionale appèlkomitee appèl aanteken.

Lees gerus Herman Toerien en Eugene Brink se opvolg-artikels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.