Malema se dood nie noodwendig demokratiese brood

Foto: Oupa Nkosi

Mense reageer grootliks uitbundig op die skorsing van vyf jaar wat aan Julius Malema, ANC-jeugleier, opgelê is. Hy het die Afrikaners kwaad gemaak, alle middelklas-mense die harnas ingejaag, baie jongmense skepties gemaak met sy gedrag, die kapitaliste bang gemaak en les bes, vyande van die die ANC se hoëlui gemaak het. Ek moet net my Facebook-rekening dophou om die vreugde hieroor te sien.

Terwyl Malema se aksies grootliks afkeurenswaardig en baie van sy inisiatiewe oneerlik en selfdienend is, het hy tog ʼn demokratiese teenwig binne die ANC gevorm. Hy het leiers sonder voorbehoude en opreg gekritiseer as hulle fouteer het en die durf aan die dag gelê om immorele optrede deur pres. Jacob Zuma te veroordeel. Malema was boonop nie gerepudieer en getug omdat hy uitsprake ten gunste van die moord op Boere (wat, per slot van sake, ʼn grondwetlike oortreding is) of nasionalisering gemaak het nie, maar toe hy die “ANC in oneer gebring het”. Dus is hy nie gestraf oor hy haatspraak gepleeg het, rassehaat aangehits het of die land se ekonomie en beeld skade berokken het nie, maar toe hy die ANC gegrief het. Hiervoor is hy vir vyf jaar uit die party geskors en as jeugleier afgedank en ek vermoed strafregtelike kan nou volg. Malema het in politieke onguns verval en die wiel het werklik begin draai.

Dus bewys die ANC en veral Zuma hulle sal enigiemand uit hul pad vee om mag te behou en dat die party slegs teenoor homself verantwoordbaar is en nie teenoor die publiek, kwesbare minderhede soos die Afrikaner of die Grondwet nie. Wanneer daar ʼn bedreiging vir die partyleiers of die sukses van die party is, word daar sterk opgetree maar nie andersins nie. Ek wens net hulle gaan so flink te werk met die probleme van die land soos wat hulle met hul eie uitdagings te werk gaan!

Zuma het die afgelope ruk strategies te werk gegaan om sy opponente uit die weg te ruim en sy netwerke te versterk voor volgende jaar se nasionale leierskonferensie in Mangaung (Bloemfontein). Hy het Tokyo Sexwale en adj.pres. Kgalema Motlanthe in die verleentheid gestel toe hy die bevindinge van ʼn verslag oor die kos-vir-olie-skandaal bekendgemaak het. Malema is skielik voor ʼn tugkomitee gedaag en geskors. Hiermee het hy bewys dat hy ʼn bedrewe en uitgeslape politikus is, maar die feite toon hy is ʼn swak leier. Die land het 1 miljoen werksgeleenthede verloor sedert 2009, die armoedekoers bly hoog, korrupsie in sy kabinet is hemelhoog, sy veelwywery en immorele seksuele gedrag het die land se beeld al onberekenbare skade aangedoen en sy ontleding van die groot kwessies laat veel te wense oor. Klaarblyklik is sy taktiek om kritici, soos Malema en die media, op ondeursigtige en ondemokratiese wyses stil te maak eerder as om aan die probleme wat deur hierdie seepkis-kritici uitgewys word, daadwerklik en demokraties aan te spreek. Nes Zuma se hofsake onder uiters verdagte omstandighede uitgespeel en beslis is, was hierdie hofsaak net nog ʼn stap in die outoritêre rigting vir die ANC. Prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit (NWU) sê hoewel die voor- en nadele van die tugsaak se uitkoms tans moeilik bepaalbaar is, kan daar ʼn interessante dinamika volg en voeg by: “Hoe demokraties en deursigtig kan ʼn bevrydingsbeweging met ‘n rewolusionêre agenda wees?”

Gelukkig gaan die golf van onvergenoegdheid oor die nie-lewering van dienste en onbevoegdheid in die land in die toekoms onuitstaanbaar word en sal die politici die probleem nie kan wegskors nie. Ek hoop net ons politici besef gouer eerder as later dat hulle teenoor die hele Suid-Afrika en die Grondwet verantwoordbaar moet wees as openbare amptenare, en nie slegs teenoor hul politieke meesters nie. Sover dit Malema betref, sou ek hom nie nou al begrawe nie. Almal vergeet hoe bly die publiek was toe Mbeki vir Zuma in die pad gesteek het en uiteindelik het Zuma die hef in die hand binne die ANC sowel as die regering gehad.

Lees gerus ook Herman Toerien se bydrae.

Klik hier om die oorspronklike nuusberig te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.