Man in hof ná aanval op bejaarde plaasopsigter

John Breedt. Foto: verskaf

John Breedt (24) het Vrydag in die hof in Hendrina verskyn op ʼn aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy glo ʼn bejaarde plaasopsigter aangerand het.

Maroela Media het vroeër berig Fanie Olckers, ʼn 86-jarige plaasopsigter van Mpumalanga, is in ʼn bedenklike toestand in die Middelburg-hospitaal nadat hy voorverlede Sondag glo deur Breedt, ʼn skoonfamilielid, tydens ‘n verjaardagpartytjie met ʼn boomstomp geslaan is. (Lees meer hier)

Olckers se dogter, Marie Delport, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar pa se toestand het baie verswak. “Hy lyk baie sleg, dit gaan nie goed met hom nie. Sy dokters vermoed dat hy ‘n infeksie opgedoen het,” het ʼn bewoë Delport gesê.

Fanie Olckers

Sersant Gerald Sedibe, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê Breedt se saak is tot 20 November uitgestel om verder ondersoek te word. “Die polisie sal ʼn saak van moord ondersoek, sou Olckers aan sy beserings beswyk,” het Sedibe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.