Man vas ná knopkieriemoord

Louis Eksteen. Foto: Facebook

Juda Joseph Plekenbol (30) is verlede week in Pretoria in hegtenis geneem, vyf dae nadat Louis Eksteen (45) dood in sy huis in Garsfontein aangetref is.

Eksteen se liggaam is op 13 April deur sy ma in sy huis gevind. Hy is vermoedelik vier dae voor sy liggaam gevind is, deur Plekenbol met ʼn knopkierie doodgeslaan. Sy ma het sy bebloede liggaam in die badkamer aangetref. Hy is vermoedelik in die sitkamer met die kierie geslaan, waarna sy liggaam na die badkamer gesleep is. Eksteen se wit Mahindra-bakkie en van sy besittings, waaronder ʼn haelgeweer, is gesteel. Daar was nie gedwonge toegang tot sy huis nie. Dit het die polisie laat vermoed dat hy sy aanvaller geken het.

Kapt. Colette Weilbach, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê Plekenbol is Woensdag in die weste van Pretoria in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk van die publiek ontvang het. “Eksteen se Mahindra-bakkie is deur ʼn ooggetuie voor ʼn pandjieswinkel gesien. Volgens die ooggetuie het ʼn skraal blonde man die bakkie bestuur, baie verdag voorgekom en is hy met ʼn paar items in die pandjieswinkel in. Hy het sonder die items uit die winkel gekom,” het Weilbach gesê.

Plekenbol is die Woensdag weer by die pandjieswinkel opgemerk, waarna twee beamptes wat die winkel dopgehou het, hom ondervra het. Hulle het die voertuig deursoek en op Eksteen se bestuurderslisensie en bankkaarte afgekom. “Die verdagte kon nie verduidelik hoekom hy in die besit van Eksteen se besittings was nie, en hy is dadelik in hegtenis geneem,” het Weilbach bygevoeg.

Die polisie het in die pandjieswinkel en by die verdagte se huis, beslag gelê op verskeie van Eksteen se besittings. Eksteen en Plekenbol het mekaar wel geken.

Plekenbol het Vrydag in die hof verskyn op aanklag van moord en die besit van ʼn gesteelde voertuig en besittings. “Die saak is tot Vrydag uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagte bly in polisie-aanhouding tot dan,” het Weilbach gesê.

Eksteen was die eienaar van Kwaai Braai, wat Namibiese braaihout in Pretoria en Johannesburg versprei het. Hy laat ’n 11-jarige dogtertjie agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theunis Eksteen ·

Louis Eksteen se ma het nie sy ligaam gevind nie, maar wel die sleutel aan Chubb sekeriteit verskaf om die huis binne te gaan. Die sekeriteitswag het op Louis Eksteen se lyk afgekom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.