Mandela-doodsberig per ongeluk uitgesaai

‘n Advertensie van ‘n doodsberig van Nelson Mandela is Dinsdagaand per ongeluk op Universal Channel kanaal 117 op DStv uitgesaai.

Die advertensie van die doodsberig, genaamd “Remembering Madiba 1918 – 2013” het ook feite oor Mandela se lewe ingesluit. Mandela (94) is verlede week in die hospitaal opgeneem met longontsteking.

Die presidensie en die Nelson Mandela Stigting het Nico Meyer, hoof uitvoerende beampte van Multichoice, Dinsdagaand gekontak om hieroor te kla. “Die fout is onsensitief vir die Mandela-familie,” het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, gesê. Hy het die kanaal geloof dat hulle die advertensie onttrek en die fout verduidelik het. “Ons aanvaar dat foute gebeur en ek voorsien nie dat dit onherstelbare skade aangerig het nie,” het Maharaj gesê.

Universal Channel het om verskoning gevra vir die fout. “Ons het huldeblyke en doodsberigte gereed vir belangrike staatsmanne en bied ‘n ‘opregte en innige’ verskoning aan dat ons, weens ‘n tegniese fout deur ons span, die aankondiging uitgesaai het,” het die kanaal gesê.

Kykers het hul misnoeë op Twitter uitgespreek en ‘n beroep gedoen op die kanaal om die advertensie te onttrek en om verskoning te vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.