Mangaung-komplot: Verdagte se brief uit tronk

Keevy (links) en Prinsloo tydens 'n hofverskyning op 8 Januarie vanjaar. Foto: Sabrina Dean/SAPAJohan Prinsloo, een van die vier verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle beplan het om ANC-hoës tydens die party se Mangaung-leierskonferensie te vermoor, het in ʼn brief uit die gevangenis gesê hy beplan om op ʼn eetstaking te gaan weens die “vertrapping van sy basiese menseregte.”

“Ek sien uit na die dag om my saak in die hof te stel dat die waarheid kan uitkom. Maar ek kan nie langer berus met die vertrapping en verkragting van my basiese menseregte nie,” skryf Prinsloo (49) in die brief. Die brief is gerig aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die kommissaris van justisie en die media. “Dit is nou alreeds sewe (7) maande sedert ek gearresteer is en daar is tot vandag toe nog geen formele klagstaat ingedien nie. In my eenvoudigheid as mens kan ek nie verstaan hoe die SAP gedurig die saak wil uitstel om hulle ondersoek te voltooi nie. Moes hulle nie eers die saak ondersoek het en seker gemaak het van hulle feite voor hulle iemand net in die tronk kan gooi nie?” skryf Prinsloo in die brief. Prinsloo, Martin Keevy, Mark Trollip en Hein Boonzaaier is op 16 Desember verlede jaar in hegtenis geneem. “My vertroue in die regstelsel, wat ek eens vurig ondersteun en opgebou het, word benadeel omrede die basiese beginsel van Onskuldig tot die teendeel in ‘n hof bewys is, klaarblyklik nie meer geld nie. Ek sien uit na my dag in die hof om my saak te stel en ek weet die waarheid sal my onskuld bewys, maar tot dan moet ek soos ‘n dier in ‘n hok aangehou word. Wie kan die dae wat ek hier spandeer het teruggee, die dag as ek onskuldig bevind word?”

OFM berig intussen dat Francois Laux, hoofondersoekbeampte in die saak, in reaksie op die brief gesê dat daar nie nou al ʼn klagstaat hoef te wees nie aangesien die ondersoek nog aan die gang is. Prinsloo sê hy sal vanaf 5 Augustus op ʼn eetstaking gaan. “My vrees is dat hierdie saak, nes die Boeremag saak, uitgerek gaan word. Ek verstaan dat die regstelsel sy pad moet gaan en ek vra nie vir voorkeur ten opsigte van my saak nie, maar net die eenvoudige basiese reg om as onskuldige man saans in my eie bed te kan slaap, my medisyne te kan neem op tyd en soos voorgeskryf en ‘n dieet te kan volg om my gesondheid te herstel. Ek het alreeds 2 beroertes gehad en het ‘n familiegeskiedenis van hartkwale. Ek is meer as bereid om by die strengste van borgvoorwaardes te hou. Ek sien uit na die dag om my saak in die hof te stel dat die waarheid kan uitkom. Maar ek kan nie langer berus met die vertrapping en verkragting van my basiese menseregte nie.”

Keevy sal weer op 16 Augustus in die hof verskyn terwyl Prinsloo, Trollip en Boonzaaier na verwagting op 23 Augustus in die hof sal wees. Keevy, Trollip en Prinsloo se borgaansoeke is afgekeur, terwyl Boonzaaier op R80 000 borg vrygelaat is. Keevy is intussen in ʼn psigiatriese hospitaal opgeneem.

Die volledige brief:

(1) Die Nasionale Vervolgings Gesag (N.V.G)
(2) Die Kommisaris van Justisie
(3) Die Media

I/S: Amptelike kennisgewing t.o.v. eetstaking deur Johan Hendrik Prinsloo. Hiermee gee ek amptelike kennis van my voornemens om op die 5de Augustus 2013 op ‘n eetstaking te gaan.
Die doel van hierdie eetstaking is om die ontkenning van my basiese menseregte uit te lig op die enigste wettige manier tot my beskikking.

Dit is nou alreeds sewe (7) maande sedert ek gearresteer is en daar is tot vandag toe nog geen formele klagstaat ingedien nie. In hierdie tyd het die media en ander hulself die geleentheid gegun om leuen op leuen oor my te verkondig, sonder dat my kant van die saak ooit gehoor is, omrede die hofsaak keer op keer uitgestel word oor klein sakies.

In my eenvoudigheid as mens kan ek nie verstaan hoe die SAP gedurig die saak wil uitstel om hulle ondersoek te voltooi nie. Moes hulle nie eers die saak ondersoek het en seker gemaak het van hulle feite voor hulle iemand net in die tronk kan gooi nie?

My vertroue in die regstelsel, wat ek eens vurig ondersteun en opgebou het, word benadeel omrede die basiese beginsel van Onskuldig tot die teendeel in ‘n hof bewys is, klaarblyklik nie meer geld nie. Ek sien uit na my dag in die hof om my saak te stel en ek weet die waarheid sal my onskuld bewys, maar tot dan moet ek soos ‘n dier in ‘n hok aangehou word. Wie kan die dae wat ek hier spandeer het teruggee, die dag as ek onskuldig bevind word?

My vrees is dat hierdie saak, nes die Boeremag saak, uitgerek gaan word. Ek verstaan dat die regstelsel sy pad moet gaan en ek vra nie vir voorkeur ten opsigte van my saak nie, maar net die eenvoudige basiese reg om as onskuldige man saans in my eie bed te kan slaap, my medisyne te kan neem op tyd en soos voorgeskryf en ‘n dieet te kan volg om my gesondheid te herstel. Ek het alreeds 2 beroertes gehad en het ‘n familiegeskiedenis van hartkwale.

Die Grondwet van hierdie land waarborg ‘n individu sekere basiese menseregte. Die reg opwaardigheid, die reg tot ‘n spoedige en regverdige verhoor, die reg tot mediese behandeling, die reg om onskuldig te wees tot andersins deur ‘n hof bewys is, die reg tot lewe. In die laaste sewe maande is hierdie basiese menseregte van my ontneem en dit alles sonder dat die ondersoek eers afgehandel was.

Ek is meer as bereid om by die strengste van borgvoorwaardes te hou. Ek sien uit na die dag om my saak in die hof te stel dat die waarheid kan uitkom. Maar ek kan nie langer berus met die vertrapping en verkragting van my basiese menseregte nie.

Ek is deeglik bewus van die implikasies en gevolge van hierdie eetstaking. My gesondheid het in die laaste sewe maande ongelooflik agteruit gegaan as gevolg van die beperkte toegang tot mediese konsultasies. Ek bid dat God my die krag sal gee om sterk te staan in hierdie aksie en dat Hy aan my familie en geliefdes berusting sal gee in hierdie tyd.
In my lewe het ek nog altyd baklei vir dit wat goed en regverdig is. Die leuens en verdraaings wat my waardigheid en menswees, my aksies en my geloof so vuil gesmeer het, is nie groter as my liefde vir my God, my mense en my volk nie.

Die doel van hierdie eetstaking is nie om voorkeur behandeling te kry nie, maar om dieselfde regte te kry as wat gewaarborg is in die Grondwet. Daagliks kry geharde misdadigers borg en is hulle terug op die strate, maar ek, teen wie daar nog geen formele klagstaat is nie, teen wie daar geen bewyse is sover my kennis strek nie, wat bereid is om by die strengste van borgvoorwaardes te hou, wie se gesondheid by die dag agteruitgaan, wat nie die laaste sewe maande toegang geniet het tot ‘n regverdige verhoor nie, ek moet in ‘n hok soos ‘n dier sit en toekyk hoe my regte vertrap word. Teen die tempo waarteen my gesondheid agteruitgaan is daar nie ‘n manier dat ek regeverdig verhoor sal kan word nie,want fisies en emosioneel is ek afgemat. Die gevolg is dat ek nie by volle gaan wees ten tyde van die verhoor nie as gevolg van my mediese toestand. Hoe sal so verhoor regverdig wees?

Dit is hartseer dat ‘n land wat soveel tyd spandeer om menseregte te bevorder so gerieflik kan wegkyk terwyl ‘n burger van hierdie land se regte vertrap word. My hoop is dat hierdie redelike versoek tot borg toegestaan sal word en dat ek ‘n kans gegun sal word tot ‘n regverdige verhoor.

J.H.Prinsloo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boer ·

Wat gaan aan met die land??????
Lees die volgende
…………………..
Die polisie in Oos-Kaap is op soek na ʼn man wat van moord en gewapende roof aangekla word en wat gevlug het nadat hy op borgtog vrygelaat is.

Brig. Marina Mills, woordvoerder van die polisie, sê Zimasa Diniso (30), ook bekend as Camel, het verdwyn nadat hy op borg vrygelaat is. Mills sê die Elliotdale-landdroshof het op 14 Junie ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik. Mills sê Diniso, wat hom glo in Mthatha of Mqanduli bevind, is gewapen en gevaarlik. Hy word gesoek in verband met verskeie misdade in Mthatha en Oos-Londen.

Peter Bezuidenhout ·

Ek twyfel of reg en geregtigheid hier gaan seevier…Dit is my beskeie mening…

Stuiwer ·

Ek het nie veel ooghare vir Keevy nie, maar ek kan nie anders as om verraad en lokval hier te ruik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.