Mdluli-hofsaak tot 21 Junie uitgestel

Die geskorste misdaad-intelligensiebaas Richard Mdluli het Maandag weereens in die arbeidshof verskyn in ‘n poging om sy skorsing op te hef.

Dit volg na die Johannesburgse arbeidshof Sondagoggend beslis het dat Mdluli geskors moet bly en dat sy skorsing geldig is, ná Mdluli se skorsing Vrydag deur dieselfde hof opgehef is. Die polisiediens se regspan was nie dié dag in die hof nie en hulle het Saterdag ʼn dringende aansoek na die hof gebring om die beslissing tersyde te stel.

Waarnemende nasionale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het generaal Mdluli verlede Sondag vir die tweede keer geskors. Mdluli word van bedrog en korrupsie aangekla. Hy het ook al ʼn aanklag van moord teen hom gehad. Hy is egter in Maart vanjaar weer aangestel maar is na klagtes van verskeie organisasies na ʼn ander departement geskuif, waarna Mkhwanazi hom weer geskors het.

Regter André van Niekerk het die saak tot 21 Junie uitgestel en beveel dat die aansoekers teen 13 Junie op verklarings moet antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.