“Minimum loon gaan groot nagevolge hê” – Agri SA

Mildred Oliphant. Foto: The New Age

Volgens Agri SA gaan die 52% verhoging in die minimum loon vir plaaswerkers ʼn dramatiese invloed op die landbou- en verwante bedrywe hê.

Mildred Oliphant, minister van landbou, het Maandag in Pretoria aangekondig die minimum loon vir plaaswerkers sal voortaan R105 per dag wees. Dit was voorheen R69.

“Die verhoging wat Oliphant vanmiddag aangekondig het, het nie die implikasies daarvan op die landbou na behore in ag geneem nie. Dit is veral in die arbeidsintensiewe bedryfsvertakkinge waar daar nou van plaas tot plaas besluite geneem sal moet word oor watter aanpassings nodig is om kop bo water te hou. Struktuuraanpassings is onafwendbaar, veral as hoër brandstof- en waterpryse en elektrisiteitstariewe in ag geneem word,” het Johannes Möller, President van Agri SA, gesê.

Hy sê Agri SA is gefrustreerd daarmee dat goeie navorsingsinligting wat aangedui het dat ‘n loonvlak van R104 per dag grootliks onbekostigbaar is, misken is deur die toetreevlakloon tot R105 per 9 uur werksdag te verhoog.  Dit is aanduidend dat populêre aandrang op hoër lone groter gewig gedra het as die implikasies daarvan op die volhoubaarheid van die bedryf, insluitend sy vermoë om werksgeleenthede in stand te hou.

Hy sê voorts navorsing het bewys dat dit veral middel tot klein boerderye is wat nie hierdie loonvlak kan bekostig nie en derhalwe die transformasieproses in die landbou gaan bemoeilik. Afleggings kan ook tot meer armoede in groter informele nedersettings lei, met gepaardgaande sosio-maatskaplike vraagstukke en misdaad waaraan landelike gemeenskappe reeds uitermate blootgestel is.

“Wat Agri SA betref,  sal die regering dringend saam met rolspelers in die bedryf  in gesprek moet tree oor wat nodig is om die bedryf aan te spoor om aan verwagtinge te voldoen asook die faktore wat negatief op die bedryf inwerk, uit die weg te ruim,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Domkrag ·

Geagte Agri SA

Julle skiet julleself en die boere wie julle verteenwoordig in die voet.

‘n 50% verhoging is astronomies – veral vir boere wat tot dusver die minimum loon betaal het. Sekerlik gaan arbeidsintensiewe boerdery daardeur geraak word.

Volgende keer se bloot dat ‘n verklaring uitgereik sal word.

Hou dan ‘n interne vergadering die volgende dag, sit koppe bymekaar en beplan ‘n volledige, deursigtige persverklaring met bykomende oplossings. Die bogenoemde verklaring, al is dit 100% korrek, klink bloot na ‘n temery sonder dat julle vooruit kan dink. Vermy woorde soos “dramaties”; “nie implikasies in ag geneem”; “gefrustreerd”; “navorsing” (dis baie wyd); en dringend.

Ek as totale leek, het bloot deur half die nuus te volg verwag dat iets moet gebeur om werkers se griewe aan te spreek. My verbasing is dus bloot dat dit vir julle ‘n verbasing is.

Terug na my punt – as julle ‘n dag spandeer het om ‘n volledige deursigte persverklaring op te stel – organiseer dan ‘n media konferensie die volgende dag en tree as leiers op vir die boere wie julle verteenwoordig.

Nie altyd goed om vinnig probeer te wees nie.

Domkrag

E J Otto ·

Ek sal ten minste 4 manne moet laat gaan waarvan 2 Aidslyers is en baie dae nie eers kon werk nie Ek kan nie meer bekostig om jammer te wees nie! Vader weet waarheen hul met hul gesinne sal gaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.