Misdade haal boewe na 13 jaar in

Die kamer waar die dokumente ontdek is. Foto's: EWN

Vyf mans is Woensdag in Johannesburg in hegtenis geneem vir ʼn moord en misdade wat meer as 13 jaar gelede plaasgevind het.

Eyewitness News berig dat briewe wat die besonderhede oor die misdade en skulderkentenisse bevat, onlangs onder ʼn mat in ‘n huis in Kenilworth gevind is.

Die eienaar van die huis waar die briewe gevind is, was besig om vir die huis nuwe matte in te sit toe die brief gevind is. Die eienaar het die huis vir ʼn geruime tyd uitverhuur en die matte vervang na die vorige huurders uitgetrek het.

“Dit was asof die inligting uit ʼn rolprent kom. Een van die briewe begin met die woorde ‘teen die tyd wat jy hierdie brief lees, sal ek heel waarskynlik dood wees’,” het die eienaar gesê.

Die huiseienaars het die brief aan die polisie oorhandig. Die polisie het vir twee maande lank gepoog om die legkaartstukkies van die misdaad aan mekaar te las. Die polisie het die inligting met onopgeloste sake vergelyk en kon Woensdag op die verdagtes toeslaan.

Die inhegtenisnemings het tot inligting gelei oor ʼn groep mans wat vir verskeie gewelddadige ontvoerings verantwoordelik was. Twee broers wat in die polisie gedien het, is glo ook by van die voorvalle betrokke.

Die vrou wie glo 13 jaar terug vermoor is

Die mans het die vrou na bewering probeer vermoor, maar sy het dié aanval oorleef. Die vrou is in die hospitaal opgeneem waarna die mans mediese dokumente vervals en haar glo uit die hospitaal ontvoer en vermoor het. Sy is agter in die erf van die huis in Kenilworth begrawe. Die groep mans moes glo later weer die graf oopbreek en het haar liggaam op ‘n ander plek gaan begrawe.

Vyf bronne na aan die ondersoek het aan EWN gesê hulle verwag dat nog mense in verband met die misdade in hegtenis geneem kan word.

Luister na die eienaar se storie hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.