‘n Sakeman van Algerië is tans in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat hy Maandagmiddag by die Menlyn Park-winkelsentrum, oos van Pretoria, geskiet is.
Die polisie het ‘n 44-jarige verdagte in hegtenis geneem, wat ook van Algerië afkomstig is, berig EWN. Die slagoffer het middagete by die Parrots-restaurant geëet, toe die verdagte hom, net voor 14:00, vier keer met ‘n rewolwer in sy rug geskiet het. Die slagoffer het glo middagete saam met ‘n vrou geniet.
Volgens Wayne Koning, bestuurder van die restaurant, het hulle vier bestuurders die man gevolg en die vuurwapen by hom afgeneem. “As jy nie geweet het hy is die een wat geskiet het nie, sou jy dit nooit kon raai nie – so kalm was hy,” het Koning gesê. Die winkelsentrum se sekuriteit is dadelik in kennis gestel. Die verdagte is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op ‘n ongelisensieerde vuurwapen.
“Die slagoffer is, sover ons weet, steeds in ‘n kritieke toestand in die Steve Biko-hospitaal,” het ao Annabel Middleton, woordvoerder van die polisie, gesê.
Volgens die polisie het die verdagte en die slagoffer vroeër saketransaksies beklink.
Die restaurant is versper terwyl die polisie verklarings afgeneem het.
Die winkelsentrum is steeds oop vir besigheid, met talle klante wat, vermoedelik onbewus van die voorval, voortgaan met inkopies.