Nog drie vas vir moord op Kaapse pediater

Dr. Louis Heyns

Nog drie mans is in hegtenis geneem in verband met die moord en roof op dr. Louis Heyns. Heyns was ’n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch (US) en pediater by die Tygerberg-hospitaal. Hy was vir ʼn week lank vermis voor sy liggaam verlede Donderdagoggend in die vroeë oggendure in die Strand-omgewing gevind is. Sy liggaam was in ʼn vlak graf onder ʼn boom naby die minigholfbaan in Kusweg begrawe. Volgens die polisieverslag is Heyns glo op 22 Mei naby die Somerset-winkelsentrum geslaan en geskop. Hy is in dieselfde gebied van sy voertuig, ʼn goue ring, selfoon, tekkies en twee bankkaarte beroof.

Heyns se voertuig, ʼn donkergrys Peugeot 308, is later by ʼn voertuigwerkswinkel in Malmesbury opgespoor, waar die eerste drie verdagtes, onderskeidelik 32, 37 en 43 jaar oud, in hegtenis geneem is. Marthinus van der Walt (33), sy broer Sarel (42), en die eienaar van die werkswinkel, Juan Liedeman (37) het Maandag in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die broers word van moord en roof aangekla, terwyl Liedeman van roof aangekla word.

Liedeman het Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aansoek gedoen vir borgtog. Regter Siraj Desai het nie borgtog aan hom toegestaan nie. Hy bly saam met die Van der Walt-broers tot Maandag agter tralies, wanneer die drie weer in die hof moet verskyn.

Kaptein Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het Donderdag gesê die ander drie verdagtes, tussen die ouderdom van 22 en 29, is Woensdagaand in hegtenis geneem en word nog deur die polisie ondervra. Volgens Van Wyk is een van die verdagtes ʼn polisiebeampte.

Lees ook:
Drie in hof vir moord op Kaapse pediater
Vermiste pediater dood gevind
Polisie soek steeds na vermiste pediater
Kaapse pediater steeds vermis
Kaapse pediater vermis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.