Nóg kokaïen by Mosselbaai opgespoor

Hartenbos Foto: www.tourismincapetown.co.za

Hartenbos Foto: www.tourismincapetown.co.za

Kokaïen met ʼn geraamde straatwaarde van ongeveer R68 miljoen is sedert Kersfees by Mosselbaai se strande opgespoor.

“ʼn Drom met ʼn swart sak met 25 blokke, wat soos ongeprosesseerde kokaïen lyk, het Woensdagmiddag tussen Hartenbos en Kleinbrakrivier uitgespoel,” het kapt. Malcolm Poje, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, gesê. “ʼn Vakansieganger het die blou drom met die sak daaraan gesien en die polisie ontbied.”

ʼn Man het Dinsdag op sy balkon in Rheebok, Mosselbaai, gestaan toe hy ʼn soortgelyke blou drom met ʼn sak daaraan gesien dryf het. “Die man is dadelik strand toe en het die sak en drom uitgehaal,” het Pojie gesê. “Hy het dadelik die polisie in kennis gestel. Daar was 25 blokke van ongeveer 1 kg elk, wat soos skoon kokaïen lyk, in die drom.”

Indien dit kokaïen is, is die geraamde straatwaarde van elke blok ongeveer R1 miljoen elk, dus R50 miljoen in totaal vir die inhoud van die twee dromme.

Die poeier word na die polisie se forensiese laboratorium gestuur vir toetse.

Kaptein Bernadine Steyn, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn swemmer het die polisie in Mosselbaai Saterdag omstreeks 09:00 in kennis gestel van ʼn blou drywende voorwerp in die see naby aan Pinnacle Point. “Ons het ʼn blou drom opgespoor en ʼn swart sak was met ʼn tou daaraan vasgebind. Daar was 25 pakke in die swart sak, wat vermoedelik kokaïen kan wees,” het sy gesê. Dié 25 blokke het ʼn geraamde straatwaarde van R8.75 miljoen, indien dit kokaïen is.

ʼn Vierde drom is op Kersdag in die water naby Hartenbos-strand opgespoor. Daar was ook 25 blokke kokaïen in, met ʼn geraamde straatwaarde van R8.75 miljoen.

Pojie sê die bedrae verskil omdat van die kokaïen lyk of dit reeds gesny of geprosesseer is, terwyl die res nog in sy rou formaat is.

Lees ook:
Kokaïen by Hartenbos opgespoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.