Nuuskommentaar, 1 April 2013: Zuma se herontplooiing

Hierdie berig is nie die waarheid nie. Maroela Media het die sommer vir die lekkerkry as deel van Aprilgekkedag opgelaai om ons lesers om die bos te probeer lei.

Die terugroep oornag van Jacob Zuma as president en herontplooiing as ambassadeur in Nepal, het ontleders met die broek op die knieë betrap.

Die stap word nou in aller yl ontleed, en die slotsom was dat die stap onafwendbaar was. Die land kon Zuma nie as president bekostig nie, en dit is eerder ‘n vraag van wat die finale strooi was, as wat die oorsaak was. Volgens alle aanduidings het die invloedryke oudstes van die ANC die Paaslangnaweek stilletjies byeengekom, en daarna in geen onduidelike terme nie die ANC se topbestuur ingelig dat Zuma onmiddellik herroep moet word.

Dié groep oudstes beperk hul invloed op die ANC tot uiterste gevalle. Die vorige keer wat hulle ingemeng het, was toe dit aan die lig gekom het dat Zuma die bekende sokkerpersoonlikheid, Irving Khosa se dogter in die ander tyd gesit het. Hulle het Zuma toe die leviete voorgelees.

Volgens alle aanduidings het hulle Zuma se herkiesing kwalik vier maande gelede slegs gesteun op voorwaarde dat Zuma meer die rol van ‘n simboliese staatshoof sal inneem, en dat adjunk-presdident Kglaema Motlanthe die land funksioneel as ‘n soort eerste minister sal regeer tot Cyril Ramaphosa die presidentskap sou oorneem. Zuma het klaarblyklik ingestem, maar daarna Motlanthe politiek vernietig en bloot vir die vertoon as adjunk-president behou, terwyl Ramaphosa se toetrede tot die aktiewe politiek stilweg gerysmier word.

Die laaste strooi was skynbaar ‘n dubbelloop-aanslag, naamlik die ontbinding van die ANC se strukture in Limpopo met sy noue bande met die Huis van Tradisionele leiers, en die skielike verwydering wat tussen Zuma en die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantshe ontstaan het. Die Huis van Tradisionele leiers is juis nie opgewonde nie, na wetgewing wat hulle geïnisieer het en duidelik ongrondwetlik was omdat dit vroueregte aantas, onttrek is. Met die breuk tussen Zuma en Mantashe is die ou magstryd tussen die Xhosas en Zoeloes in die ANC ook op die spits gedryf. Die kwessie is veral akuut in die lig van oud-president Nelson Mandela se gesondheidstoestand, en so veel as moontlik voorsorg word nou reeds getref om ‘n potensieel plofbare situasie te ontlont wanneer die groot saambindende faktor sou wegval.

Die leierskorps het na die instruksies van die oudstes artikel 1 / 4 van die ANC se grondwet in werking gestel wat in wese ‘n statutêre staatsgreep in die ANC moontlik maak om ‘n groot krisis die hoof te bied, soos wanneer die president van die ANC (en dus die land) onverwags ‘n beroerte sou kry en nie meer toerekeningsvatbaar sou wees nie.

Die ANC se aankondiging dat op die Nkandla-kompleks beslag gelê en ten bate van die staatskas verkoop gaan word, dui volgens die kenners op presies hoe diep die verwydering tussen Zuma en die ANC se leierskorps geroei het. ‘n Moontlike verleentheid met die bekendstelling van die Openbare Beskermer se ondersoek na Nkandla word so ook grootliks ondervang.

Die druk in die ANC se elite het ook lank reeds teen Zuma begin opbou, veral na Zuma hom duidelik nie by sy herverkiesingsmandaat gehou het nie, en voortgegaan het om omstrede uitlatings te maak wat internasionaal die land se beeld baie skade berokken het. Hieronder tel sy omstrede honde-uitlatings, die aankondiging van ‘n nasionale reinigingsdag (wat stilweg in die sang weggesyfer het) en sy opmerking in Davos dat die gewelddadige proteste in Suid-Afrika tipies van die demokrasie is en toe boonop die vinger weer in die oog van die media gedruk het.

Ontleders bespiegel juis dat Zuma met sy herontplooiing voor ‘n ultimatum gestel word dat hy, Zuma, hom bloot as figuurlike hoof van die Suid-Afrikaanse ambassade moet beskou en die werk aan die eerste sekretaris moet oorlaat, en sou Zuma dié opdrag in die wind slaan, sal alle remmende aksies om Zuma se hervatte verhoor te frustreer, laat vaar word en kan Zuma baie gou sy dag in die hof kry.

Die waarnemers meen dat Motlanthe nou vir die tweede keer bloot instaanpresident sal wees, en dat daar nou haastig werk van gemaak sal word om Ramaphosa as president van die land te ontplooi. Motlanthe sal dan sy termyn as adjunk-president voltooi, wat dit vir hom moeilik sal maak om by dr. Maphela Ramphele se Agang aan te sluit.

Die rand sal na verwagting môre met die heropening van die internasionale marke skerp teen die meeste geldeenhede versterk. Op die korttermyn sal dit sleg vir die land se uitvoere wees, en veral platinummyne kan hulle in ‘n nog groter krisis bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.