Nuuskommentaar: Breytenbach – Regering se lakmoestoets

Advokaat Glynnis Breytenbach tydens haar vorige verhoor in Februarie. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se veronderstelde onafhanklikheid is telkemale onder verdenking geplaas.

Die oorhoofse kwessie is steeds die besluit om alle aanklagte teen pres. Jacob Zuma te laat vaar. Dié stryd oor dié besluit word steeds in die howe gevoer, en daar is min optimisme dat die saak ooit, terwyl dit nog saakmakend is, opgeklaar sal kan word.

Tussenin was daar ook die verwydering van adv. Vusi Pikoli as hoof van die NVG in wat op die oog af verband gehou het deel te wees van die proses om oud-president Thabo Mbeki se invloed in die NVG te sloop en met die nuwe bewindhebbers s’n te vervang. Pikoli was hoog aangeslaan hoewel hy voorheen as DG van Justisie in die  saak van minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling en ander versus Tshishonga beeldskade gelei het.

Intussen is die president weer deeglik betrek by die hofbeslissing dat Zuma nie die grondwetlike vereiste nagekom het nie om behoorlik aandag te skenk in sy besluit om adv. Menzi Simelane as hoof van die NVG aan te stel.

Maar in die tyd voor Simelane verwyder moes word, het die NVG adv. Glynnis Breytenbach geskors. Vanuit die staanspoor is die indruk geskep, weens die lomp manier waarop die NVG die saak hanteer het, dat die saak teen haar ‘n politieke vendetta was, wat gespruit het uit haar vasbeslotenheid om politieke druk te weerstaan en nie ‘n paar sake  met hoë politieke implikasies te laat vaar nie.

Hoewel die ondersoek teen die eertydse misdaadintelligensiehoof, Richard Mdluli, die meeste aandag geniet het, was die Kumba Iron Ore / Sishen en Imperial Crown Trading–mynregtekwessie die saak wat die land enorme skade berokken het.

Van die land se politiek besgeplaasde name het met ‘n pennestreep skatryk geword in gebeure wat meer vrae as antwoorde gelaat het, en wat skokgolwe deur potensiële beleggers gestuur het. Die Mail & Guardian het die Guptas en Zuma se seun, Duduzane, hierby geïmpliseer.

Dié saak is reeds tot in die appèlhof gevoer waar Imperial Crown Trading se prospekteerregte teruggeplaas is in die hande van Sishen Iron Ore Company. Imperial het onlangs aansoek gedoen om na die grondwetlike hof te appelleer.

Die boodskap was op die oog af duidelik – dit was minstens politiek hoogs ongewens om dié saak op te klaar. Vir die NVG was die groot name kroonwild, en dus onaantasbaar.

Breytenbach het egter aangedring dat die ondersoek verder gevoer word, en sy is toe met ‘n rits skynbaar opgemaakte klagtes gestuit.

Die uitspraak, en veral hoe die NVG daarop gaan reageer, hou groot implikasies vir Suid-Afrika in. Indien sy steeds verhinder gaan word om haar ondersoeke na behore te volvoer, gaan die persepsie net verder gevoed word dat die NVG nié politiek onafhanklik is nie, en dat sekere individue se politieke bande hulle onaantasbaar, en skatryk maak. 

Die bekende politieke ontleder, Theo Venter, meen dit is onwaarskynlik dat Breytenbach as lid van die NVG sal aanbly. Sy self het egter aangedui dat sy begerig is om dadelik weer by die NVG te begin werk indien sy toegelaat sou word om dit te doen. 

In baie opsigte het Breytenbach die simbool en vlagskip in die stryd teen korrupsie, in die vorm van politieke begunstiging, geword, en sal die wyse waarop haar saak nou verder hanteer word die rigting aandui van hoe die dié euwel verder ‘n impak op die land sal hê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

AAN GLYNIS BREYTENBACH, STERKTE MAAR JY VEG N GEVEG WAT JY NIE GAAN WEN NIE AL IS JY REG. DIE GESPUIS BESKERM MEKAAR TOT DIE DOOD TOE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.