Nuuskommentaar: Jub Jub – moord en opset

Molemo “Jub Jub” Maarohanye en Themba Tshabalala word skuldig bevind aan moord. Foto: Werner Beukes/SAPA

Menselewens bly kosbaar en roekeloosheid kan iemand weens moord lank agter tralies beland.

Die sanger Jub Jub en ‘n medebeskuldigde is op vier aanklagte van moord en twee van poging tot moord skuldig bevind nadat hulle tydens ‘n onwettige straatwedren, en onder die invloed van dwelms, tussen ‘n groep skoolkinders ingejaag het. Hulle is boonop borgtog geweier tot hulle gevonnis word.

‘n Paar dae tevore het ‘n motorbestuurder in Soweto na berig word ‘n epileptiese aanval gehad en in ‘n gesin ingery. Die baba is dood en die ander gesinslede beseer, waarvan twee ernstige beserings opgedoen het.

Dit herinner aan ‘n debat wat twee dekades gelede in regskringe geheers het: Een beskuldigde pleit in die hof onskuldig omdat hy te dronk was, en niks kan onthou nie. Sy verweer is dat hy ontoerekeningsvatbaar was en dus nie die opset kon gehad het om die misdryf te pleeg nie. So kon letterlik met moord weggekom word.

Hierteenoor kry iemand vir die eerste keer in sy lewe ‘n epileptiese aanval, en in dié aanval sterf iemand. Die persoon was heeltemal onbewus daarvan dat hy ‘n latente epilepsielyer is, en begin dadelik medikasie neem wat die moontlikheid uitskakel dat hy weer so iets kan oorkom. Hy moes egter ‘n verpligte tydperk in aanhouding in ‘n sentrum deurbring.

‘n Gebruik in Suid-Afrika wat gereeld groot bitterheid veroorsaak, is dat moorddossiere outomaties geopen word waar iemand baie duidelik uit selfverdediging opgetree het. Van hierdie mense is selfs op aanklag van moord gearresteer en aangehou, soos ‘n boer by Brits wat twee inbrekers in sy plaaswinkel betrap het. Na die eerste waarskuwingskoot het die een inbreker deur die venster gespring en weggehardloop. Die ander het met ‘n skerp voorwerp op die boer afgestorm, wat na berig word nie genoeg tyd vir nog ‘n waarskuwingskoot gehad het nie, en moes skiet om sy eie lewe te beskerm.

In ‘n Vrystaatse geval het ‘n boervrou ontdek daar is by haar huis ingebreek, en dat die inbreker waarskynlik nog in die huis is. Hulp is ontbied. Die vermeende inbreker het uit ‘n boom op die buurman gespring, en die aanvaller is toe gewond. Terwyl die aanvaller op staatskoste hospitaalbehandeling gekry het, en nie onder arres was nie, is die buurman aangehou.

Dat die onbevredigende situasie waar iemand drank en dwelms as verweer gebruik, onder druk sou kom was duidelik, en Jub Jub se skuldigbevinding is ‘n manifestasie daarvan.

Iemand kan nie maar bloot met Bacchus gaan flankeer en ongeag die gevolge, hoogstens van dronkbestuur of openbare dronkenskap, en met ‘n bietjie teenspoed, strafbare manslag skuldig bevind word nie.

Die blote feit dat Jub Jub en sy medebeskuldigde in ‘n landdroshof verhoor is, dui daarop dat die voorsiene gevolge nog nie dieselfde gewig dra as ‘n persoon wat iemand se lewe tydens ‘n plaasaanval of ‘n gehuurde sluipmoord neem nie.

Intussen het die tradisionele grens tussen strafbare manslag en moord in die praktyk ook verskuif, en hierin het AfriForum ‘n rol gespeel. In 2009 is die gebruiklike klag van strafbare manslag teen ‘n taxibestuurder na vertoë na moord verander na hy die 16-jarige Bernadine Kruger op haar bromponie omgery het.  Hy is twaalf jaar gevangenisstraf opgelê. Streeklanddros Edmund Patterson het dit soos volg opgesom: “Hy het die moontlikheid van haar dood voorsien en volhard in sy optrede met onverskilligheid oor die dodelike gevolge.”

Die taxibestuurder skuldig bevind aan moord met dolus eventualis (opset by moontlikheidsbewussyn). Na hierdie uitspraak is gesê nog sake wat normaalweg as strafbare manslagsake hanteer is, kan nou moordsake word.

In Februarie vanjaar is ‘n taxibestuurder op tien aanklagte van moord skuldig bevind nadat hy deur ‘n versperring gery, en met die bussie vol skoolkinders voor ‘n trein beland het. Hy is twintig jaar tronk toe gestuur.

Sowat twee jaar gelede het ‘n dwelmmiddel in Suid-Afrika in gebruik gekom, bekend as “whoonga.” Dit bestaan onder meer uit bestanddele van anti-retrovirale middels, dagga en rottegif. Dit het so begin hande uitruk dat pasiënte buite klinieke van hul anti-retrovirale medisyne beroof word. Die mense wat beroof word kan weens dié misdaad vroeër graf toe gestuur word.

Kort voor die gebruiklike padslagting oor Kerstyd is dit goed dat bestuurders besef roekelose bestuur kan erge gevolge inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.