Nuuskommentaar: Wat soek SA-soldate daar?

Argieffoto van Suid-Afrikaanse soldate. Foto: GCIS/SAPA

Die nuus dat 13 Suid-Afrikaanse soldate (plus na berig word ses Spesmagte-operateurs)  in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gesneuwel het na die sowat 200 Suid-Afrikaanse soldate ‘n oormag van 2 000 moes trotseer, laat weer die vraag ontstaan: Wat het hulle in die eerste plek daar gesoek?

Die tragedie manifesteer hom nou as ‘n erge kapasiteitsverleentheid net mooi wanneer Suid-Afrika van vandag af as gasheer vir sy Brics-vennote optree en van die wêreld se magtigste leiers ‘n draai in die land kom maak.

Die minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se antwoord dat hulle nie daar was om te veg nie maar om “kapasiteit te bou” laat weer meer vrae as antwoorde.

Volgens ‘n berig van RSG vanoggend vroeg blyk dit die minister het die bevolking wolle oor die oë probeer trek. RSG berig dat onthul is dat pres. François Bozizé, Suid-Afrika kort voor hy voet in die wind geslaan het, om hulp gevra het nadat hy president Zuma verlede Vrydag ingelig het dat die rebelle hom gewaarsku het om die land te verlaat of ‘n militêre aanval te verwag.

Ironies val die gebeure presies saam met ‘n peiling wat toon dat, tien jaar nadat Amerika Irak binnegeval het, 52 persent van die Amerikaners meen die VSA moes uit Irak gebly het.

Die groot verskil was dat die VSA-geleide magte in Irak ingegryp het om ‘n onstabiele diktator wat hom onder meer aan massamoorde skuldig gemaak het en daarvoor tereggestel is, se bewind omver te werp. Enkele dae gelede was dit die herdenking van die bloedbad toe die magte van Saddam Hoessein op 16 Maart 1988 die Koerdiese dorp Halabja in Irak se Koerdistan met chemiese wapens aangeval het. Volgens aansprake van die Koerde is minstens 5 000 mense die dag dood en meer as 7 000 beseer. Saddam se magte se aanvalle, bekend as operasie Anfal, het van 1986 tot 1989 geduur. Die bloedigste jaar was egter 1988, toe na raming meer as 182 000 mense dood is – talle is glo in ongemerkte massagrafte begraaf. Hoewel Saddam na sy dood vir dié moorde aangekla is, is hy eers vir soortgelyke wreedhede teen die Sjiïete aangekla en tereggestel voor hy nog vir die vergrype teen die Koerde kon verantwoording doen.

Suid-Afrika het ‘n regering wat weens onder meer korrupsie en wanadministrasie met ‘n rebelle-inval te kampe gehad het, gaan rugsteun. Dié land is 144ste op die korrupsie-persepsie-indeks, en is die 10de mees mislukte staat ter wêreld. Op die internasionale vredesindeks is dit die 151ste mees onstabiele staat uit 158 wat gemeet is. Altesaam 64 state is meer persvry. Hoewel die land weens sy mineralerykdomme (olie nog uitgesluit) ‘n besonder welvarende land behoort te wees, is dit een van die armste lande ter wêreld – weens die korrupsie en wanadministrasie. Watter boodskap stuur dit uit oor die Suid-Afrikaanse regering se verbintenis tot grondwetlike demokrasie as so ‘n bewind gerugsteun word?

Pres. Jacob Zuma het vroeër vanjaar bekend gemaak dat Suid-Afrika R21 miljoen per maand, en R1,2 miljard oor die volgende vyf jaar sal spandeer vir die aanwesigheid van Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal Afrikaanse Republiek. Hy was in die spervuur omdat hy volgens die opposisiepartye ‘n ongrondwetlike proses gebruik het om die soldate in die eerste plek te ontplooi.

Suid-Afrika, en die Afrika-Unie se opvatting is dat die uitgeskopte Boizizé ‘n demokraties-verkose president was. Dit is net ‘n halwe waarheid – hy het in 2003 onder baie soortgelyke omstandighede self deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom, en daarna, net soos die nuwe leier van voorneme is om te doen, ‘n soort regering van nasionale eenheid op die been gebring. Hierna is eers verkiesing gehou, wat Boizizé gewen het. Om Boizizé en sy regering egter hierom as onaantasbaar te beskou is om ‘n baie verwronge perspektief te hê oor wat die term “demokrasie” alles behels.

Boizizé het hom ook nie gehou by die Januarie-vredesooreenkoms wat met die rebelle gesluit is nie, waarskynlik in die waan dat die Suid-Afrikaanse magte, wat deur die rebelle as huursoldate beskou word, aan hom die nodige rugsteun sou bied. Die Suid-Afrikaanse soldate was egter nie net te min nie, maar hopeloos ontoereikend uitgerus om hulself in ‘n konfliksituasie te handhaaf.

Noudat die situasie in die Suid-Afrikaners se gesigte ontplof het, moet die vraag (al weer) gevra word hoe doeltreffend die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste is. Selfs die mees elementêre internetsoektog en ander inligting wat in die openbare domein is, bring aan die lig dat die Suid-Afrikaanse soldate sleg deur die regering en die SANW se bevelstruktuur uitverkoop is. Of funksioneer die intelligensiedienste beter as wat dit lyk en is dit ‘n geval van ‘n regering wat politiek doof is?

Die intelligensiedienste kry nou R3,8 miljard uit die begroting, wat waarskynlik nie die volle prentjie is nie omdat die SANW en polisie ook intelligensie-arms het. Maar dit is omtrent al wat ‘n mens kan uitpluis omdat die hele kwessie so in geheimhouding gehul is dat daar in wese geen sprake van verantwoordbaarheid is nie. Die Burger berigvanoggend dat senior offisiere verlede week reeds die topstruktuur gewaarsku het dat die sending op selfmoord neerkom – dit wil dus minstens ten dele lyk of daar ‘n politieke horende-doofheid was.

Intussen is dit nog ook onduidelik wat die verdere rol van die Suid-Afrikaners in die DRK is.

Die Suid-Afrikaanse bevolking kan maar net hoop dat Zuma nie sy gekneusde ego gaan probeer streel deur nog soldate te stuur om met of sonder VN- en AU-sanksie, Boizizé terug in die kussings te probeer help nie. Maar geen ander scenario oor hoekom die troepe nie onttrek word nie, maak nou sin nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pikkewyn ·

Weermaglede voer slegs opdragte uit van bo. Anc het gepraat en klaar. Het die soldate n keuse. Nee. Het hulle geweet wat hul regte doel was. Nee. Feite is Zuma het n ooreenkoms geteken, dit nou misbruik, daaroor gelieg en feite verdraai vir SA, parlement en die soldate. As ek daardie soldate se families is, sal ek eise teen hom, minister en bevelvoerder instel. EN hulle by UN menseregte verkla en moet die gevolge dra. Nes orrupsie en BEE. Hy en die anc steel mense se menswaardigheid. A g v anc korrupsie met geen kos nie en gaan mense dood van honger of misdaad. Die hoeveelheid wat doodgaan is erger as die Britse konsentrasiekampe. Hulle lok miljoene uit Afrika om hier dood te gaan (dan gooi hul alle swartes wat dood gaan in een mandjie) onder valse voorwendsels. Nes die DRK.

Dawid ·

Ek het nog nie gehoor hoeveel rebelle in die “oorloggie” dood id nie. Is daar enige?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.