Nuuskommentaar: Weet Zuma se linkerhand wat die linkerhand doen?

President Jacob Zuma en minister Trevor Manuel

Pres. Jacob Zuma is baie wyd gestriem omdat hy, waarskynlik onder druk van radikale vakbonde, mnr. Trevor Manuel gerepudieer het. Ook Maroela Media het hieroor berig en nuuskommentaar gelewer.

Die kritiek was veral teen Zuma gerig omdat Manuel gesê het swak dienslewering en ander probleme kan nie meer voor apartheid se deur gelê word nie. Enige mens by sy positiewe moet bewus wees daarvan dat dit wat krap by probleme soos kaderontplooiing en rasbegunstigde aanstellings lê, waar (in die woorde van die hoofregter, Mogoeng Mogoeng ten opsigte van die regbank) die beste bekwaamheid nie al norm is nie.

‘n Dag later sing die presidensie ‘n ander deuntjie: Zuma het eintlik met Manuel saamgestem, maar net bedoel dat die sleureffek van apartheid nog lank met ons sal wees.

Dat Zuma hiermee eintlik net die klem van die een bol waarin hy getrap het na ‘n ander verskuif, is kwalik die punt. Die punt is dat Zuma se adviseurs en toespraakskrywers hom, en die land, ‘n reuse onreg aangedoen het, of dat Zuma doodgewoon sy woorde weens ander druk moes sluk.

Dit is reeds ou nuus dat Zuma se adviseurs en toespraakskrywers, of minstens sommiges van hulle, nie die skerpste potlode in die pakkie is nie, en dis moontlik dat die skrywers gewoon geblaps het, of onbewus was van die steun én kritiek wat Manuel gekry het.

Indien Zuma gedwing is om sy woorde te sluk, is dit moeilik om te raai dat dit van enige ander oord kon kom as sy adjunk in die ANC, Cyril Ramaphosa self. Indien wel, is dit duidelik dat die druk baie ernstig moes wees.

Dit sou verder heeltemal verstaanbaar wees as Ramaphosa Zuma voor ‘n ultimatum sou stel. Om voor die radikale vakbonddruk te swig sou gewoon beteken dat die nasionale ontwikkelingsplan, waarvan Ramaphosa en Manuel van die hoofargitekte was, so goed as vir die rak bestem was om stof op te gaar. En dan was die land baie gou in sy hêppie kanon in – so eenvoudig soos dit.

En Ramaphosa sou oor vyf jaar ‘n land erf wat onherstelbaar in die grond in “bestuur” is.

Of Ramaphosa en Manuel vir Zuma voor ‘n keuse gestel het soos: Trek die repudiëring van Manuel terug, of Ramaphosa en Manuel (en ‘n klomp gesaghebbende ANC-swaargewigte), bedank uit protes uit die ANC en sluit by Agang of Cope aan, is blote bespiegeling, maar dit bly moeilik om ‘n ander gedagte gestalte te gee. Selfs al bedank Manuel en Ramaphosa bloot uit die ANC sal die ANC moeilik daarvan herstel, en die impak op die markte en Beurs kan kwalik voorgestel word.

Net die tyd gaan meer lig op hierdie saak werp, wat uiteraard deeglik deur die ANC teen die bors gespeel sal word. Dit sal onregstreeks afgelei moet word, soos onbekwame ministers wat uiteindelik die trekpas kry, nuwe adviseurs en toespraakskrywers – kortom ‘n  meer tegnokratiese onderbou as blapsende politieke kornuite.

Die groter implikasie is dat Zuma se “saambindende” rol in die ANC deur alles vir almal te wees nou uitgedien is. Die pole is net te ver van mekaar om deur botsende bekpraatjies saamgevat te kan word.  Keuses moet gemaak word, soos die sprekende voorbeeld van Julius Malema wat eens deur Zuma as kroonprins voorgestel is, maar later deur die einste Zuma politiek gefusilleer is.

Maar steek dit in Zuma om konsekwent die regte advies te volg? Kort-kort lyk dit of hy van iewers ‘n nuwe bravade haal, en weer ‘n enorme blaps begaan wat soos ‘n veldbrand deur die land en die buitelandse media versprei.

Sou Zuma byvoorbeeld bloot net nie geweet het dat die seremonies wat tydens reinigingsrituele plaasvind deur die hoofstroomkerke, insluitende die Anglikaanse kerk van Aartsbiskop Desmond Tutu wat hy wou vra om ‘n nasionale reinigingseremonie te lei, as afgodery verafsku word nie? En toe hy nog boonop politieke kwetsende opmerkings maak oor mense wat nie daaraan sou wou deelneem nie? Intussen het Tutu by implikasie vir Manuel téén Zuma in die bresse getree toe hy gesê het “Eenvoudig gestel is ons bewus daarvan dat ons een van die mees gewelddadige samelewings geword het. Dit is nie wat ons was nie, selfs nie onder apartheid nie…. ‘n Mens hoef nie na statistieke te kyk om te sien dat Suid-Afrika een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld is nie en onderliggend aan die probleem is ‘n gebrek aan geestelikheid.”

Zuma kan allermins bekostig om by die ANC, en veral sy opvolgers, in onguns te verval. So iets kan maklik daartoe lei dat Zuma sy dag in die hof kry, iets wat hy eens so mooi bepleit het en nou geheueverlies oor het.

Dat iets gebeur het is duidelik. Dat die ANC dit gaan probeer verdoesel is ook so.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jayare ·

Ai – Zuma sit ook op ‘n baie warm stoel tussen al daai faksies binne sy eie party. Hy weet ook nie hoe om enige uitlatings te reageer nie, so in plaas van om sy bek te hou, sit hy liewers sy groot poot dwars in sy bek. So my siening is – hy verdien die slae wat hy van tyd tot tyd kry uit verskillende oorde binne sy eie party – dan met hy maar weer die – ek is buite konteks aangehaal – perd uit die stal trek. Die ANC floreer mos op – ek is uit konteks aangehaal – en – dit is apartheid se skuld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.