Nuuskommentaar: Die juk van kwaadwillige regering en die fiksiedoktrine

President Jacob Zuma en president Omar al-Basjir in Soedan (31/01/2015) Foto: Departement van kommunikasie

President Jacob Zuma en president Omar al-Basjir in Soedan (31/01/2015) Foto: Departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma se ontmoeting met die vermeende menseslagter, Omar al-Basjir, in China, en veral sy aanvaarding van ’n uitnodiging om Soedan met ’n staatsbesoek te vereer, laat die vraag ontstaan of die regering nou onherroeplik die geledere van kwaadwillige regerings betree het.

Dié keer kan daar geen verskoning wees dat dit die Afrika-unie, en nie die regering was nie, soos toe die regering ’n hofbevel geïgnoreer het om te keer dat Al-Basjir die land verlaat. Trouens, in die amptelike verklarings oor die ontmoeting en die voorgenome besoek word gespog oor die 16 bestaande bilaterale ooreenkomste met Soedan.

Dit sal egter nie die eerste besoek van Zuma aan Soedan wees nie. Trouens, hy was in Februarie vanjaar ook in Soedan. Maar hoekom die nuwe fokus?

Tussenin het Al-Basjir se omstrede besoek aan Suid-Afrika plaasgevind, en onder meer tot ’n uitval tussen die regering en die regbank gelei. Die lug is intussen gesuiwer, maar Zuma se besoek kan as ’n reuse-afjak vir die regbank en die skeiding van regeringsmagte beskou word. Zuma kan ook nie onkunde pleit nie – die polemiek en selfs ’n doeltreffende poging tot ’n mosie van wantroue teen hom in die parlement, moes die erns van die saak duidelik tot die president laat deurdring het.

In plaas van skadebeheer toe te pas, dryf hy die dolk in die land se reputasie as land met ’n gesonde regsbasis en verbondenheid aan internasionale reg net dieper in die hart in.

Presies dieselfde styl, die fiksiedoktrine, word as in ander sake gevolg. As Eskom weens ANC-wanbestuur begin hik, is dit apartheid en Jan van Riebeeck se skuld.

Dat die land se ekonomie in tamatiestraat is, is tot onlangs deur Zuma ontken. Die probleme wat daar wel is, is ander se skuld. Gewoonlik apartheid.

Wat Al-Basjir betref, probeer Zuma en Kie. in pas kom met die algemene blaam uitdeel van Afrika dat kolonialisme iets daarmee uit te waaie moes gehad het. Dit moet wees, want volgens Zuma het die mense van Afrika in vrede geleef en baie pret gehad voordat Jan van Riebeeck die pret kom bederf het. Hy vergeet, of hy weet nie dat Tsjaka twee agtereenvolgende hoofkrale onderskeidelik Kwa-Bulawayo (die plek van doodmaak) en Bulawayo genoem het.

Omtrent al wat kolonialisme met die stryd tussen Arabier, die etniese swart Moslems, die Darfoer, te make het, is dat die Arabiere nie oorspronklik van Afrika is nie, en eers ná die opkoms van die Islam vastrapplek in Noord-Afrika gekry het. Kortom, die gebiede is nie net tot die Islam bekeer nie, maar die inheemse bevolkings soos die Berbers, die etniese Egiptenare en talle Nihlitiese stamme van veral Soedan is verdring.

Indien Zuma sy geskiedenis geken het, behoort hy eintlik betreklik die duiwel in te gewees het oor hoe Al-Basjir en sy voorsate met etniese swart mense gewerk het, en in die geval van Darfoer, tot onlangs steeds gewerk het.

Maar presies wat is ’n kwaadwillige regering? In ’n generiese sin is dit ’n regering wat nie in die beste belang van ʼn land en sy mense regeer nie. En hieroor berig die media deurlopend tot ergernis van die regering. In ’n meer regstegniese sin is dit ’n regering wat ’n twee-derde meerderheid sou gebruik om die grondwet ten koste van die regstaat te wysig, of in die geval van menswaardigheid, gelykheid en vryheid en ’n veelparty-stelsel, ’n driekwart-meerderheid probeer inspan.

Dit spreek vanself dat ’n regering kwaadwillig is wanneer hy die meerderheidsgroepe nie kan bereik nie, en dan wesenlik gewoon die grondwet of hofuitsprake ignoreer. Die minagting van bevindings van instansies soos die Openbare Beskermer kan hierby gevoeg word.

En nou gaan dwing Zuma die wêreld se vergrootglas op hom, en sy tonguitstekery vir die regsharmonisering van die wêreld.

Ongelukkig, as die wêreld, of ’n deel van die wêreld hierop sou reageer soos om Suid-Afrika deelname aan Agoa (African Growth and Opportunity Act) te ontsê, is dit die hele land wat gaan ly. In ’n kleptokrasie sal iemand anders ook die prys betaal om te verseker dat Zuma se luukse lewenstyl nie onder druk geplaas word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hannie ·

Wonder net……. het JZ dalk ‘n paar tips by hierdie menseslagter gaan kry???? Is daar geen ander normale/nie-moordenaar- regeerders reg oor die wereld, waar hy ‘n besoek kon afle nie. Meng jou met die semels…………..

Christie Joubert ·

Baie, baie dankie, Herman dat jy inligting so mooi kan bymekaar sit om die hele prentjie te vorm. Uitstekende werk!

Nico ·

Daar is ‘n persepsie onder swartes in SA dat Bashir bloot deur die Weste gesoek word en ons weet Afrika wil nooit aan die kant van die Weste wees nie. Arabiere word deur swart Suid-Afrikaners as die goeie ouens in wêreld politiek beskou. En soos die artikel tereg wys is die misdade juis teen swart Afrikane gepleeg is. En dit is teen hulle wat Zume sy rug keer. Ek ken ‘n persoon wat Suid-Soedan ‘n paar keer besoek het. En daar is geen liefde vir Bashir en die noordelike Soedan wat deur Afrikane van Arabiese afkoms beheer word.

Winston ·

Weereens puik gestel Herman. Of Zuma sy geskiedenis ken…..hy ken nie eers sy hede nie. Al waarin hy belangstel is mag en hy wys hy kan. Ignoreer alle bewerings en met die steun van sy parlement kom hy weg daarmee. Die etniese suiwering in SA gaan ongesiens verby. Lande wat hulle oor apartheid uitgespreek het, is nou doodstil. Soos jy sê: die topstruktuur gaan nie die lydende party wees nie. Ou gesegde: “As jy n helpende hand soek, kyk na die punte van jou arms” Tyd dat ons iewers moue oprol.

Johannes Meintjes ·

Die regering van die dag en die SP raak al meer ongeloofwaardig. Die moontlike voordeel daarvan is dat die talle daar buite wie met verlangende harte (of agendas) na SA en Afrika kyk, net so min weet waar hulle staan of wat van hul beleggings, ooreenkomste en projekte gaan word as die lande se wetsgehoorsame burgers. Raar maar waar, – in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.