Nuuskommentaar: Wreed, wreder, Suid-Afrika?

Die foto is na 'n plaasmoord geneem.

Die foto is na ‘n plaasmoord geneem.

Die wreedheid waarmee ’n bejaarde Vrystaatse boer die afgelope week gemartel en vermoor is, is in die media as dierlik beskryf. Diereliefhebbers sal verskil, en meen geen dier is tot sulke wreedheid in staat as die mens nie.

Die wreedheid waarmee plaasaanvalle dikwels gepaardgaan, is so erg dat nie almal dit oor hul hart kan kry om dit oor te vertel of neer te pen nie. Dis in enige taal walglik. So walglik dat dit bo enige politieke of ideologiese vooroordeel behoort uit te styg. Die land behoort sy kop in skaamte te laat sak dat ’n deel van sy inwoners tot sulke wreedheid in staat is.

Dit is egter nie net met plaasaanvalle wat hierdie verstommende wreedheid voorkom nie. Suid-Afrika is die verkragting-hoofsetel van die wêreld, maar dit is nie net die getalle wat skok nie – die wreedheid waarmee dit gepaardgaan, die talle slagoffers wat uiteindelik vermoor word, en die profiel van die slagoffers laat die normale mens die kop skud. Wie verkrag nou ’n tweejarige (en selfs jonger) meisie? Wie verkrag ’n oumatjie van 102? Hoe siek moet so iemand wees?

Hoe lyk ’n gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding buite ’n veiligheidskompleks? In middelklasbuurte is genoeg duiwelsvurk-heining opgerig om die Chinese muur wat lengte betref die kroon af te steek. Agter die heining is woeste honde. Die huise self beskik nie meer net oor diefwering nie, maar tralies wat aan tronktralies herinner. Die versekering vereis gewoonlik boonop dat daar alarms aangebring moet wees, en dikwels dat dit aan ’n stelsel gekoppel sal wees om ’n gewapende reaksiemag na die toneel te ontbied.

Nie alle gemeenskappe kan sulke luukshede bekostig nie. Word die beskikbare inligtingsbronne nageslaan, is dit opvallend hoe dikwels die ontleders die blaam van die oortreders wegskuif en die reaksie van blootgestelde gemeenskappe as wreed beskryf. Dit sluit reaksies in soos gemeenskappe wat boendoe-howe “oprig” (indien hulle die moeite wil doen) en die verdagtes op die wreedste maniere moontlik straf. Dikwels word die verdagtes wreed vermoor.

Niemand sal dit betwis dat die land met ’n gees van wetteloosheid te make het nie. Is daar ongelukkigheid oor dienslewering, sal die geringste vonkie soms tot geweld lei en dikwels is buitelanders se winkels die eerste bestemming wanneer plundertogte uitgevoer word. Drankwinkels is ook gewilde bestemmings. Die voorbeeld van hierdie soort gedrag word tot in die parlement gestel.

In Suid-Afrika is die wrede misdade nog meer akuut as dit oor rassegrense plaasvind. Die regering se lomp bontpratery om dit weg te probeer praat as bloot misdaad slaag nie. In die vorige bedeling was dit verswarende omstandighede om ’n misdaad, veral geweldsmisdaad, oor die rassegrense heen te pleeg, juis oor die impak wat dit op intergroepverhoudinge in die breë sin uitoefen.

Sielkundiges, sosioloë en kriminoloë lys redes vir die voorkoms van wrede misdaad. In vandag se “beskaafde” samelewing sou verwag kon word dat die debat oor gemeenskappe se reaksie op “ondenkbare” misdaad, soos kindermolestering, sou handel daaroor dat frustrasie nie oorkook in ’n “wrede” reaksie nie. Hierdie “wrede reaksie” waaroor in sommige oorsese lande diskoers gevoer word, klink byna verspot wanneer mense dit op Suid-Afrika probeer projekteer. Daar is “administratiewe wreedheid” soos om iemand wat nog nie skuldig bevind is nie borgtog te weier en hom in die tronk aan te hou. Ons roem ons immers op die leerstelling iemand word onskuldig geag tot die persoon bo redelike twyfel skuldig bewys is.

Nog ’n “wreedheid” wat elders onder skoot kom, juis in die geval van kindermolestering, is om die skuldige se naam op ’n tipe “skandlys” bekend te maak.

Suid-Afrika het nie die luukse van hierdie soort debat nie. Die land het ’n skrikwekkende geskiedenis van aangekeerdes wat hulle aan selfs wreder misdaad skuldig maak terwyl hulle op borgtog uit is, of op parool vrygelaat is.

Die land het immers te make met misdadigers wat eenvoudig verstom. In die proses beroof hierdie misdadigers ons van die voorreg om ’n beskaafde, regverdige en billike regstelsel te kan hê – ons moet heeltyd improviseer om gate toe te stop.

Wanneer ’n mens dink ’n sekere wreedheid kan nouliks oortref word, soos om ’n bejaarde boer se voetsole met ʼn strykyster te verbrand om hom te probeer dwing om te sê waar sy kluis is (wat hy terloops nie gehad het nie), dan tref ’n volgende berig met nog groter wreedheid die gemeenskap.

’n Volgehoue veroordeling hiervan deur die regering is nodig, gepaard met die beskikbaarstelling van middels om dit hok te slaan. Want plaasaanvalle vind byna altyd oor rassegrense heen plaas en dis nie asof die land nog ’n kluis vol kapitaal van versoening het om op te teer nie. Daai kluis is kommerwekkend leeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Akram ·

Genugtig. ek is in n posisie waar ek met baie buitelanders te doen kry. Die dieng wat die meeste gevra word is hoekom is die misdaad so hoog? wel ek kan nie antwoord nie. wat ek wel weet is dat die verhouding tussen die geweld en die misdaad wel buite verhouding is. mense verloor hulle lewens vir selfone en sulke dinge. soms word n persoon vermoor vir boggerol. dit is die ergste. dit laat my dink aan n duiwe boer wat sy oortollige en nuttelose duiwe uitdun. die hof presedure maak dit ook nie makliker vir die klaer nie. so op die einde kry n persoon n geringe vonnis opgeskort en/of n boete. dinge sal nie beter word nie. die vonnise moet weer as afskrik middel dien. dit sluit in alle misdade. die kriminele in SA is kroonwild. moet beskem word so ver moontlik, ongeag die misdaad en die nagevolge vir die wat onder die rampokkers deurgeloop het.

gerrie ·

Minder regte vir misdadigers en ontduikers en doodstraf as jy lewe neem
eenvoudig

pop ·

Herman daar se jy dit, in die vorige bedeling was dit verswarend om geweld misdade te pleeg, ongeag wie dit was. Nou word alle blaam vir die land se probleme op apartheid geplaas en so word die woede aangeblaas. Almal is kwaad. Die wittes oor ons uitgelewer is aan die boosheid. Die swartes oor hulle melk en heuning (VERNIET NATUURLIK) belowe is en dit nie gekry het nie. En hulle is net so vreesbevange soos ons. Die regering kyk ander pad terwyl hulle kyk hoeveel hulle kan skep aan die land se reserwes. Vir my voel dit of die regering wat sy bevolking moet beskerm juis die grootste vyand is.

Lenie Grant ·

Die regering kan nie teen die misdadigers optree nie. Hulle is self n klomp misdadigers en liegbekke. Die een het n dokters graad in dit en die ander een is n gekwalifiseerde ingenieur. Ons hoor dit heeldag oor die nuus en dit is hulle wat die land regeer. Wat verwag jy?

jacques ·

Ek wil nie eens meer die nuus lees van plaasmoorde nie dis te onstelend.Die probleem is die mense wat invloed het en die geld het om iets te doen kyk ander pad,want hulle kan hulle self beskerm.Ek het die laaste optog van motors gekyk teen high jackings ek kon nie een nuwe model voertuig raaksien daar nie, almal was ou model voertuie wat vir my se dis net die gewone landsburgers gewees wat deelgeneem het daaraan.

Winston ·

Dis ons modus operandi. Rug is nog nie teen die muur vir baie van ons nie. Kyk wat kom. Dit gaan vir die wat nou dink hulle is okay, nie n sondagskool piekniek wees nie.

annette ·

Dis of hulle die Boer en wittes haat met ‘n passie. Nie eers in apartheid was daar soveel haat nie.
Ons sogenaamde regering wat met hulle bekke in die krip staan gee nie ‘n continetal om wat gebeur op die grond nie want die hele spul sit op hulle troontjies en het so wortel geskiet dat al hulle beskermde broers en susters geen vinger verroer om iets te doen aan die walglike situasie wat ons in leef nie. Hulle skree freedom en ons bly in ons eie tronke en word net vrygelaat om te gaan werk om belasting op te dok vir die vetgevoerdes. Jou lewe is permanent in gevaar om die spul diewe en uitbuiters aan krip te hou.

Henry ·

Die huidige regime en hul kornuite steur hulle nie aan ons oproepe om hierdie wrede en bose kringloop van geweld, moord en doodslag te stuit nie. Dit is sedert 1994 so duidelik soos daglig!!!
Daarom is dit so belangrik dat daar volgehoue en grootskaalse veldtogte geloods moet word om hierdie wreedhede in die buiteland te verkondig.
Nie op sporadiese wyse nie, maar onophoudelik, berekenend en teikengerig.
Bombardeer die buitelandse beleggers, politici, media met die aaklige werklikhede van hierdie ongebreidelde geweld.
Vertel diesulkes wat as die ekonomiese melkkoeie vir ‘n korrupte regime en hul kaders dien, van die Armageddon wat hierdie Marxisties geïnspireerde regime aan’t ontwikkel is.
As voorbeeld. Mercedes Benz en andere sal vinnig moet begin verduidelik wanneer die Duitsers vrae begin stel oor hul voortgesette beleggings in ‘n land waar moordenaars en geweldenaars hul aaklighede ongehinderd kan bedryf.
Daarom moet ons Soliforum en andere wat bereid is om hierdie taak te verrig, op grootskaal ondersteun. Ons het geen ander uitweg/keuse nie.
Hierdie regime se weiering en onvermoë om die droewe land se mense te beskerm teen die booshede wat daagliks hier plaasvind, MOET wêreldwyd verkondig word.
Dit is mynsinsiens ons enigste uitweg.

D ·

Die ergste vir my is; die haat waarmee ek aangekyk word. Dit voel vir my die generasies van swartmense wat die minste deur apartheid geraak is, is die ergste en die veel veeleisendste, voel vir my almal 40 en jonger. Die jongmense is amper erger tussen 20-25. Selfs die wat gaan studeer soek alles met n lepeltjie gevoer en dis juis die met hierdie haat in hulle oe.

Pendoring ·

Uhuru, midde Afrika, sestigs en sewentigs. Hulle het daardie tyd al gesê ons (RSA) se beurt kom. Ons wou nie luister nie. Dis nou hier.

HEVW ·

Henry ek stem. Ons lees telkens buitelandse gebeure wat selfs onbenullig is op die nuusforum van maroela. Waarom kan hierdie grudade nie gereeld in die buitelandse pers verskyn nie? Daar moet tog iewers media wees wat n oor vir ons het. Ek het nie veel kennis van die perswese nie, maar kan daar nie met sekere koerante onderhandel word om as mondstuk namens ons op te tree nie?

Pieter Oosthuizen ·

Ons is gelukkig in die sin dat die sistematiese doodmaak van mense altyd as n ‘misdaad’ beskou, ‘ontleed’ en gepropageer word.
Seker het die Tweede Wêreldoorlog, en slagtings in Rwanda, Serwië, Darfoer, Kambodja, Viëtnam, Mianmar, Kongo en dies meer net die kriminoloë besig gehou.
Behoede ons as die woorde: ‘volksmoord’, ‘oorlog’, of selfs nog erger: ‘die sistemiese massaslagting’ van ‘n ongewensde kultuurgroep; -ooit moet uitglip en gebruikstaal word.
Ontkenning kos meer mense hul lewens, want die onkunde wat daardeur geskep word, laat toe dat mense in stede en in woonkomplekse onverhoeds betrap word deur die instrumente van die dood.
Ontkenning van die realiteite, maak jou aandadig aan die massaslagting van blankes in Suid Afrika.

HEVW ·

Jammer ek is weer aan die woord. Dit wil vir my voorkom of hierdie aanvalle en moorde na die doenberaad in Pretoria drasties toegeneem het. Dit wil skyn asof daar n teenreaksie is. Indien wel, wie is die organiseerders?

George ·

Ek begin moed skep. Na ek hierdie kommentare gelees het, lyk dit as of die blankes begin wakker skrik en die realiteit begin aanvaar. Soos iemand reeds gesê het, nie almal van ons staan met die rug teen die muur nie. Dit gaan eintlik nog te goed. Die onheil tref net die bure, waarom bekommer??? Die tyd het aangebreek om die volgende stap te neem naamlik iets doen. Verstaan my reg asb. Ek is nie ‘n voorstaander van geweld nie maar ek behou die reg om my en my mense te verdedig. Wat ek probeer sê is raak betrokke by organisasies soos Solidariteit, Suidlanders ens. Raak pro-aktief.

Jc ·

Sit bietjie mooi en dink vorentoe. Alle klagtes gaan nie help nie. Asseblief,as jy kan,verlaat die land. Ek is al 11 jaar daar uit en ek sal nooit weer SA toe gaan nie. My familie en ek, was amper bokveld toe 11 jaar gelede. Maak plan mense. Ek het met min Australia toe gekom,hard gewerk,en is weer op my voete na 10 jaar,met n goeie besigheid wat ons opgebou het. Ek het met n vakanie visa Australia besoek,en werk gesoek. Iemand het my in gesponsor en ek het gewerk vir hom totdat ek my citizenship gekry het. As jy 45 of onder is,glo ek jy het die guts om voor te begin. Ek hoop hierdie boodskap kan sommige van julle inspereer.
My vraag is,gaan dinge verander? Sal ek ooit weer daar n besigheid op die been wil bring? Sal ek se,ek gaan nou n toekoms vir my kinders in SA op bou vir die toekoms en my nageslag. Wat se voordele het SA vir my as wit vel. ek wil nie negarief wees nie, Kyk na die realiteite.My hart gaan uit na elke plaasboer en familie wat daar vermoor word en ek bid vir beskerming aan al ons mense daar.

George ·

Ek gaan nie kommentaar lewer oor die besluit of dit reg of verkeerd is om te emigreer nie. Elke keer as iemand van my volksgenote die land verlaat voel dit vir my soos ‘n begrafnis. Al wat ek wil sê, daar is te veel profesieë uit wat sê dat hierdie land ons land is en dat ons dit gaan terugkry. Die verloop van gebeure gaan baie soos in die tyd van Gideon wees. Dit gaan ‘n wonderwerk wees en die wêreld sal stomgeslaan wees. Hou goeie moed. Ons hemelse Vader slaap nie. Reg SAL geskied. Groete aan almal in Australasieë. Moet ons nie vergeet nie asb.

Gjorg ·

Jc, jy sê jy wil nie negatief wees nie maar jy is die toonbeeld van negatief. Jy sê jy hoop om te inspireer maar al wat jy regkry is om my hartseer te maak. Jy vra of ons die guts het om voor te begin? Ek sê ons het die guts om hier te bly, DIS guts! Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek ken nie jou situasie nie en ek gaan nie met oogklappe deur die lewe nie….ek weet wat in my land aangaan. Waarmee ek wel ‘n probleem het is ‘n vreemdeling wat vir my prober oortuig om my land te verlaat vir “die land van melk en heuning” omdat daar geen hoop is nie, jy wat sonder om twee keer te dink ons bietjie “gom wat die land aanmekaar hou” probeer oortuig om te loop totdat hier niks en niemand oor is nie. Een druppel maak nie ‘n emmer vol nie…..as die 1milj blankes wat sedert 1995 ge-emigreer het nog hier was in SA dink jy ons sou nou hier gesit het? Nee ons sou nie, en so verraai al die druppels ons want as hulle hier was kon die emmer water soveel dinge laat groei het.

Jaz ·

Guts om hier te bly? Sê maar vir jouself so, Gjorg. Ek dink almal van ons besef nou dat dit tyd is om ten minste ondersoek te begin instel op ‘n exit plan. Dit rattle my. Ek weet dit is seker nou tyd, terwyl my huis en besittings waarde het… maar om eensklaps in Engels verder te lewe, om alles wat jy ken en gewoond is prys te gee en oor te begin is vrek moelik. Ek moet egter dink aan veral my kinders se toekoms. Dis vir my moeilik om my belange op te weeg teen die van my kinders. Elke oomblik wat ek langer hier bly voel dit vir my meer na selfsug.

Charlotte ·

Knap geskryf! ‘n Mens word naar as jy hierdie berigte lees – wat nog nie gepraat van die reaksie wat ‘n mens het wanneer so iets met ‘n geliefde gebeur nie! Mag die Here one genadig wees!

Jaco ·

Dankie aan Mr Toerien en Maroela media vir nog ‘n artikel oor plaasmoorde…. maar ek dink dit is pateties dat daar nogsteeds gese word ons moet ons self tot die regering wend wat dit ten sterkste moet veroordeel en hulpmiddels beskikbaar stel om dit hok te slaan…… dink maroela media/die skrywer werklik so? Want dit is ‘n onnosel stelling om te maak, wie vandag nog dink dat Jacob Zuma se regering aandag aan plaasmoorde sal gee is stom onosel of mal. Kom ons praat reguit en los al die sagte stellings wat voorstel dat die regering enigsins oor boer omgee. As Mandela min te sê gehaad het daaroor en Thabo Mbeki die Kommando’s afgestel het dan gaan die mees korrupste van die 3 (Zuma) mos nou die een wees wat “hulpmiddele” beskikbaar stel. WAT “N GRAP!!!! “Red ons tog asseblief ANC stuur julle Ridder heer Jacob Zuma en sy bende van korrupte politieke gangsters om ons te kom red!” (Sarkasties) Dis ‘n mooi droompie maar WORD ‘N SLAG WAKKER!!! Vergeet van die ANC of enige ander regering se hulp, doen die werk self en vang die varke wat dit doen. Dan stel ons ons eie tradisionele hof op en ons straf die persone self, so swaar as moontlik, maar nie voor ons elke krieseltjie inligting van hulle ontrek het nie. Die moorde is miskien nie ‘n priorityd vir enige iemand anders nie maar vir ons is dit en terwyl ons kla en mooi woordjies oor iets so grusaam skryf sodat ons nie op die ANC of linkses se toontjies trap nie beplan die organisasie wat die moorde uitvoer die volgende slagting.

Danie ·

Die regering gebruik die plaas aanvallers om ons van die plase af te verdryf en nie nog plase aan te skaf nie m.a.w. die regering gebruik hulle indirek as moordbendes om hulle doelwitte te bereik.

Stu ·

Could you please send me an English translation – would like to forward it on to our American brothers and sisters – God Bless.

Johannes Meintjes ·

Tot tyd en wyl die (onwaarskynlike) beskawing weer tot SA toetree moet individue, gesinne en gemeenskappe hulself beskerm. Die kerk, regering en die gemeeskapsleiers is almal stil …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.