Nuwe wending in Madeleine McCann se verdwyning, danksy SA-man

ʼn Man van Suid-Afrika mag dalk die groot raaisel om die verdwyning van die Britse meisie, Madeleine McCann, oplos.

Stephen Birch, ʼn kommersiële eiendomsontwikkelaar van Suid-Afrika en sogenaamde speurder, het aan die Britse polisie grondradar-skanderings gestuur van, wat hy beweer, ʼn graf is. Die beweerde graf is naby die vakansieoord waar Madeleine vyf jaar gelede weggeraak het, berig SkyNews.

Birch erken hy het ʼn obsessie met Madeleine se verdwyning. Hy het sowat R500 000 spandeer om ʼn grond-indringende skandeerder te koop en geleer hoe om dit te gebruik. Hy het verlede week die gebied om die Portugese vakansieoord, Praia da Luz, skandeer en op die ‘graf’ afgekom.

Hy het sy bevindings aan Scotland Yard-speurders gestuur. Hulle het sy hulp aangevra om dié skanderings te ontleed. Volgens Scotland Yard oorweeg hulle enige nuwe inligting en sal dit gevolglik aan die Portugese owerhede aanstuur.

“Ek het die skanderings analiseer. Dit wys dat daar in die grond gegrawe is, ʼn holte en iets wat moontlik die menslike beendere kan wees,” het Birch gesê. “Ek wil net graag die raaisel oplos sodat Madeleine se familie antwoorde kan kry. Ek is oortuig sy lê waar ek die grond ondersoek het.”

Haar ouers Kate en Gerry McCann glo sy is steeds lewendig en wou nie kommentaar lewer oor Birch se bewerings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.