NVG swyg oor Oscar-aanklagte

Oscar Pistorius

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wou Vrydag nie kommentaar lewer oor berigte dat Oscar Pistorius twee nuwe aanklagte in die gesig staar nadat hy glo ‘n vuurwapen op ‘n roekelose manier in ‘n openbare plek gevuur het nie.

Medupe Simasiku, woordvoerder van die NVG het in ‘n teksboodskap gesê die inligting is nie deur die NVG vrygestel nie en dat hy nie kommentaar daaroor kan lewer nie. Hy wou ook nie kommentaar lewer op die vraag of hy bewus is van die aanklagte nie.

Die nuuskanaal eNCA het op sy webwerf berig dat Pistorius (26) na verwagting Maandag, tydens sy volgende hofverskyning in die Pretoriase landdroshof, twee bykomende klagtes in die gesig sal staar. ENCA berig dat die NVG glo Pistorius se prokureurs in kennis gestel het van die aanklagte.

Volgens die berig hou die eerste aanklag verband met ‘n voorval waar Pistorius glo sy vuurwapen uit die sondak van ‘n vriend se motor laat afgaan het toe hulle ná ‘n vakansie huis toe gery het. Die tweede aanklag hou glo verband met ‘n voorval waar Pistorius glo per ongeluk ‘n vriend se vuurwapen in ‘n Johannesburgse restaurant laat afgaan het.

Pistorius word van moord met voorbedagte rade aangekla nadat sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie in sy huis in Pretoria doodgeskiet is. Tydens ‘n borgverhoor in Februarie het Pistorius se verdedigingspan aangevoer dat Pistorius haar vir ‘n inbreker aangesien het.

Die polisie het Dinsdag gesê sy ondersoek na haar afsterwe is afgehandel. Lt.gen. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, het gesê Pistorius sal Maandag alle aanklagte ontvang en die saak sal dan uitgestel word. “Die aanklaer, in samewerking met die verdediging, sal op ‘n verhoordatum besluit,” het hy gesê. “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoekspan, onder leiding van lt.gen. Vineshkumar Moonoo, is oortuig dat die beskuldigde op die aanklag moet antwoord gee nadat die span onvermoeid gewerk het om seker te maak dat die ondersoek afgehandel word.”

Die ondersoekspan sluit speurders, forensiese-, ballistiese-, en tegnologie-deskundiges en forensiese sielkundiges in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter Bezuidenhout ·

oscar=lekker vet melkkoei,maar die fondse gaan nie vir altyd hou nie…Kom ons kyk maar vir hoe lank gaan julle melk,nietemin,reg en geregtigheid moet geskied…

Eben ·

Lees jou Peter …. Ek glo Oscar is skuldig aan roekelose/nalatige hanteer van vuurwapen maar dat hy met OPSET Reeva vermoor het glo ek persoonlik nie so. Ek verstaan n eks-vriendin het teen hom gedraai oor die twee moontlike nuwe sake. As die vuurwapen afgegaan het uit n sondak van n voertuig …. per ongeluk afgegaan het in restaurant WTF!! Is dit so groot issue. Die ondersoek beamptes het die saak op gedonner en kryp alle grashalmpies om die saak te probeer red, maar hul self is die grootste ewel.

Nee wat, Oscar gaan uitstap met n opgeskorte vonnis want hy het GEEN bybedoeling gehad om Reeva te vermoor. ‘n Ongeluk bly n ongeluk en Reeva was net op die verkeerde plek .. al was dit in die toilet!

Nettie van Staden ·

Of dit nou voorbedagte dade of nie was nie. Daar is ‘n mens se lewe geneem. Die wet moet strenger gemaak word. My gewese man 44 is dood nadat hy met een vuishou geslaan is deur ‘n jong mannetjie skaars 21. Hy het erg breinskade opgedoen, was in ‘n koma vir 3 weke voordat hy gesterf het. En die mannetjie is aangekla vir aanranding met die opset om te beseer. Hy is skuldig bevind, het ‘n opgeskorte vonnis gekry vir 5 jaar en R10000 boete, omdat hy nie kon voorsien wat sou gebeur nie. Dit was nie eens ‘n regverdige vuisgeveg nie, hy het onskuldig daar gestaan, en is net geteiken omdat die mannetjie lus was om te baklei met iemand. Is dit geregtigheid? Hy het ‘n dogter van 13 en ‘n seun van 15 jaar, 3 dae voor sy 16 de verjaarsdag, agter gelos. Hulle pa is nie meer daar nie! Hulle pa gaan nie sien hoe hulle skool voltooi, begin werk, trou of kinders gaan he nie. Hierdie verlies kan ek aan niemand beskryf nie. Dink dit as julle se dis net ‘n ongeluk, of jy is op die verkeerde tyd op die verkeerde plek! Moord is moord! Per ongeluk of nie! Mens moet verantwoordelikheid neem vir die uiteinde van jou optredes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.