Obama en sy nalatenskap

President Barack Obama Foto: Pete Souza, whitehouse.gov

Amerikaanse presidente wat tot ‘n tweede termyn verkies word, het gewoonlik twee roetes om tydens ‘n tweede termyn te volg. Die eerste is om meer ideologies op te tree deur sy eie ideologiese voorkeure te probeer implementeer. ‘n Demokraat sal dus meer liberale en ‘n Republikein meer konserwatiewe stappe neem. Die tweede roete is om tydens ‘n tweede termyn meer gematig te regeer ten einde sy eie gewildheid te verhoog en so altyd as ‘n goeie, effektiewe en gewilde president onthou te word. George W. Bush het die eerste roete gevolg en is vandag nog ongewild, terwyl Bill Clinton die tweede roete gevolg het en vandag steeds gewild is.

Sou Barack Obama vandag tot ‘n tweede en laaste termyn as president verkies word, sou ons almal môre graag wil weet watter een van die twee roetes hy gaan volg. Alles dui tans daarop dat Obama soos sy voorganger, Bush, die eerste roete sal volg. Obama het inderwaarheid tydens sy eerste termyn meer gematig regeer as wat verwagtinge was. Obama se geskiedenis en rekord dui daarop dat hy ‘n sterk liberale ideologie as sy eie beskou. In sy kort tydjie in die Amerikaanse senaat het Romney ‘n uiters liberale loopbaan gevolg en is selfs een jaar as die mees liberale senator in die senaat aangewys. Voordat hy ‘n Amerikaanse senator geword het, was hy ‘n baie liberale senator in die Illinois Senaat waar hy onder andere aborsies tot in die laaste termyn van swangerskap ondersteun het.

Vroeër vanjaar tydens ‘n gesprek tussen Obama en die Russiese President, Dmitry Medvedev, het Obama sonder dat hy daarvan bewus was dat die gesprek opgeneem is, aan Medvedev gesê dat hy na sy herverkiesing meer beweegruimte sal hê. Beweegruimte waarvoor weet ons nie, maar mens kan vermoed dat Obama graag die Amerikaanse standpunt teenoor Rusland wil versag. Hy sal waarskynlik sy internasionale beleid in geheel wil versag deur onder andere ook die verlaging van spandering op die weermag.

Aan die anderkant weet ons ook dat Obama ‘n charismatiese leier is vir wie persoonlike beeld en ondersteuning belangrik is. Hier toon hy baie ooreenkomste met Bill Clinton. Dit is dus moontlik dat Obama tydens sy tweede termyn eerder kan poog om na die middel van die politieke spektrum te beweeg ten einde groter hervormings in plek te stel en groot suksesvolle inisiatiewe wat groot steun van ‘n meerderheid Amerikaners geniet, te kan deurvoer.

Obama se probleem is egter dat die Amerikaanse ekonomie slegs deur ongewilde stappe reggeruk sal kan word. Indien Obama tydens ‘n tweede termyn op broodnodige ekonomiese hervorming wil fokus sal hy voor die moeilike uitdaging sit om die steun van Republikeine in die Huis van Verteenwoordigers (wat hulle sterk beheer) en Senaat (waar die Demokrate waarskynlik na vandag se verkiesing steeds in beheer sal wees) vir sy inisiatiewe sal moet werf. Sou hy redelik eensydige stappe (soos die verhoging van belasting) neem kan hy moontlik sukses behaal, maar mag hy meer ongewild wees. Ongewildheid oor die korttermyn beteken egter nie ongewildheid oor die langtermyn nie en Obama sal die twee teen mekaar op opweeg.

My verwagting vir ‘n Obama tweede termyn is dat hy waarskynlik groot hervormings in plek gaan probeer stel. Hy sal meer na links beweeg ten einde sy eie steunbasis gelukkig te hou, maar hy sal steeds probeer om die Amerikaanse publiek se steun te behou. Dit gaan ‘n moeilike balanseertoertjie vir Obama wees.

Klik hier om die vorige artikel te lees.
Klik hier om alle vorige artikels te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemsbok ·

Ek vermoed jou verwysing na Romney in die tweede helfte van die tweede paragraaf is foutief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.