‘Ontvoerde’ Pta-man se lyk gevind

Richard Drevin het kneusplekke, vergote hart gehad. Lees die berig hier.

Die polisie het intussen bekendgemaak dat Richard Drevin nie vermoor is nie. Lees die storie hier.

Drie mans is intussen in hegtenis geneem in verband met Richard Drevin se dood. Sy pa het ook meer inligting oor die saak bekendgemaak. Lees die storie hier.

Richard Drevin

Die polisie in Pretoria het bevestig dat die lyk van Richard Drevin, wat glo Vrydagaand in Hatfield Square ontvoer is, Dinsdag in ʼn staatshospitaal gevind is.

ʼn Polisiewoordvoerder, kol. Katlego Mogale, sê die Brooklyn-polisiestasie se ondersoekspan het vroeër vandag Drevin (23) se liggaam by die Tshwane-distrikshospitaal gevind. Die liggaam is deur ʼn goeie vriend uitgeken. Mogale wou geen verdere inligting bekendmaak nie en sê die polisie ondersoek ʼn saak van ontvoering en moord. Drevin se pa, Gunther, het aan Maroela Media gesê hoewel hulle baie hartseer is, is dit ʼn vertroosting om te weet dat hy by sy Hemelse Vader is. Dit wil blyk of Drevin reeds Saterdag dood was. Maroela Media het Maandag berig dat Drevin omstreeks twaalfuur Vrydagaand vermis geraak het nadat hy die laaste keer by ʼn kuierplek in Hatfield Square gesien is. Drevin se ma, Lynette, het vroeër gesê dat toe ʼn vriend van haar seun hom op sy selfoon probeer bel het, ʼn vreemde persoon die selfoon geantwoord het. “Hy het vir hulle gesê Richard is siek en dat hy in die badkamer is. Toe hulle daar kom was hy egter nie daar nie en toe hulle weer bel het die persoon gesê Richard is saam met hulle by ʼn ABSA-OTM.” Richard se foon was sedert Saterdagoggend af en is daar glo twee kontantonttrekkings uit sy bankrekening gemaak.

Drevin het verlede jaar sy honneursgraad in inligtingtegnologie klaargemaak by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Hy het sedert die begin van die jaar in Sunninghill in Johannesburg gewoon waar hy as ʼn konsultant gewerk het by PricewaterhouseCoopers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.