Onderhandelinge met ʼn groep ontvoerders wat die oud-onderwyser van Bloemfontein, Pierre Korkie, in Jemen as gyselaar aanhou, hervat vandeesweek.
Tiaz Sooliman, die stigter van die humanitêre welsynsorganisasie Gift of the Givers, het Maandag gesê die organisasie se verteenwoordiger in Jemen, Anas Al-Hamati, gaan Dinsdag na die gebied vlieg waar Pierre aangehou word.
“Al-Hamati was gedurig besig met onderhandelinge oor die telefoon. Hy sal na verwagting môre persoonlik met die ontvoerders vergader,” het Sooliman gesê. “Hy sal ook afskrifte van Pierre se Suid-Afrikaanse paspoort vir hulle neem om te bewys dat hy nie ʼn Amerikaanse toeris is nie, want die hoeveelheid geld wat hulle eis is belaglik.”
Maroela Media het Vrydag berig Pierre se vrou, Yolande, is met behulp van die organisasie vrygelaat. Sy en haar man is in Mei 2013 in Taiz ontvoer. Die ontvoerders het Vrydag $3 miljoen (ongeveer R30 miljoen) binne agt dae geëis vir Pierre se vrylating. Die groep het aanvanklik $2 miljoen vir Yolande geëis, maar het haar sonder ʼn losprys vrygelaat.
“Die eerste doel is om die sperdatum te verleng en die volgende stap is om te sien of ons die bedrag kan verminder,” het Sooliman gesê. Hy sê Al-Hamati het ʼn “goeie verhouding” met die ontvoerders. “Ons hoop dat ons hulle kan oorreed dat ons nog tyd benodig.”