Oscar: M-Net onttrek advertensieveldtog

Bemarking van die advertensieveldtog is Donderdagmiddag reeds van verskeie kennisgewingsborde verwyder. Foto is deur die gebruiker @dionchang op Twitter gelaai.

M-Net het sy advertensieveldtog waarin Oscar Pistorius die hoofrol gespeel het, Donderdag onttrek.

“M-Net het ‘n eenmalige, korttermyn-kontrak met Oscar Pistorius gesluit vir ‘n ses weeklange veldtog om die Academy Awards (Oscars) te bemark,” het Lani Lombard, woordvoerder vir die televisiekanaal, gesê. “Hierdie ooreenkoms is nou beëindig.” (Sien ‘n video wat die veldtog adverteer heel onderaan die berig.)

‘n Nike-advertensie van die Paralimpiese atleet met die byskrif “I am the bullet in the chamber” (ek is die koeël in die loop) is ook intussen van sy amptelike webwerf verwyder. Die advertensie is ‘n foto van Oscar in ‘n groen lyfpak en het pas met sy bekende hardlooplemme uit die blokke weggespring. Nike se regmerkie en die slagspreuk “Just do it” (Doen dit net) kan ook op die advertensie gesien word. (Sien foto van die advertensie onderaan die berig.)

Dié internasionaal bekende sportdragvervaardiger wou vroeër nie kommentaar lewer oor sy toekomstige verhouding met Oscar nie. “Dit is ‘n polisie-aangeleentheid en die saak word ondersoek,” het Seruscka Naidoo, woordvoerder vir Nike SA, gesê. “As Nike betoon ons berou met almal wat hierdeur geraak word.”

Nike is een van Pistorius se vyf groot borge. Hy het sedert 2008 al in talle advertensies vir die maatskappy verskyn.

Oscar se model-meisie, Reeva Steenkamp, is Donderdagoggend omstreeks 04:00 by sy huis in Pretoria doodgeskiet. Hy is Donderdagaand by die Boschkop-polisiestasie, oos van Pretoria, na ‘n aanhoudingsel geneem. Volgens Kenny Oldwage, sy prokureur, sal Oscar Vrydagoggend in die Pretoriase landdroshof verskyn. “Ons sal aansoek doen om borg,” het Oldwage gesê. “Oscar is emosioneel, maar hy hou sy kop omhoog.” Oldwage het bevestig dat Oscar van moord aangekla word. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.