Oscar: Meer inligting oor vrou se “geestelike toestand”-mosie

Oscar Pistorius wag Woensdag in die beskuldigdebank vir sy borgaansoek om voort te gaan. Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Vrou se verrassende versoek om ʼn mosie voor die Pretoriase landdroshof te dien oor Oscar Pistorius se “geestelike toestand” is Donderdag vlugtig in die hof van die hand gewys.

Die vrou, wat voorhou sy is ‘n prokureur, is geïdentifiseer as ene Annamarie (haar van is nog onbekend), die voormalige vrou van Pistorius se ortopediese chirurg, dr. Gerald Versfeld.

Sy het die mosie beskryf as ‘n grondwetlike aangeleentheid, maar landdros Desmond Nair het die mosie vlugtig van die hand gewys. Hy het gesê dat die borgverhoor reeds in ʼn gevorderde stadium is en dat daar reëls en regulasies is wat gevolg moet word. Sy het gesê sy gaan by die hooggeregshof appelleer, waarop Nair dit beaam het.

Volgens die dokument wat Annamarie aan die prokureurs van die staat en verdediging oorhandig het, is dit ʼn “dringende mosie” om Pistorius vir 60 dae deur ‘n paneel van onafhanklike psigiaters te laat ondersoek. Volgens haar is dit om  te bepaal of Pistorius by sy “gesonde verstand” was tydens die skietvoorval.

Sy wil ook hê Nair moet van die saak onttrek. Sy is van mening Pistorius was die aand voor die voorval “buite sy natuurlike aard”. Sy het gesê sy ken Pistorius sedert 1987 en dat hy nie normaal optree nie.

Die dokument versoek ook dat die verhoor in camera gehou moet word en vir die media om op te hou om ‘n “sirkus” van die saak te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.