Oscar Pistorius-moordverhoor: Daar was “harde stemme”

Oscar Pistorius en sy regspan: Barry Roux (L) en Kenny Oldwage Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd - Pool (SAPA)

Oscar Pistorius en sy regspan: Barry Roux (L) en Kenny Oldwage Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd – Pool (SAPA)

Beeldmateriaal van dag 1 van die moordverhoor volg onderaan die berig. Die tweede getuie in Oscar Pistorius se moordverhoor in die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag getuig oor harde stemme wat sy gehoor het voordat Reeva Steenkamp doodgeskiet is.

Estelle van der Merwe het gesê dit het geklink of mense baklei. Sy het in Afrikaans getuig en ʼn tolk het haar getuienis vertaal. “Dit het omtrent ʼn uur lank aangehou,” het Van der Merwe gesê. Sy bly ook in Silver Wood-landgoed, dieselfde landgoed waar Pistorius Steenkamp doodgeskiet het.

“Die klanke het my irriteer, want ek wou slaap en my seun moes die volgende dag ʼn eksamen aflê,” het sy gesê. Sy het ʼn kussing oor haar kop getrek om die geluide te demp. Sy het later vier skote gehoor.

Nadat sy gesukkel het om te verduidelik hoe die skote geklink het, het Van der Merwe gesê dit was ‘bang, bang, bang…’. “Dit is die beste wat ek kan doen,” het sy gesê. “Die skote het op mekaar gevolg. Ná die skote was daar algehele stilte.”

Barry Roux, vir Pistorius, wou Dinsdagoggend by die eerste staatsgetuie, Michelle Burger, weet of sy dalk die geweerskote kon verwar met die klank van ʼn krieketkolf wat ʼn deur afbreek. Sy het gesê iemand sou die kolf moes swaai, en dit sou ʼn vertraging tussen die skote veroorsaak het. Pistorius moes die toiletdeur met ʼn krieketkolf afbreek nadat hy Steenkamp geskiet het.

Burger het getuig sy het vier skote gehoor. Haar huis is ongeveer 177m van Pistorius se huis, in die aangrensende sekuriteitslandgoed. “Bang…. bang, bang, bang,” het sy die skote aan die hof beskryf. Sy het getuig daar was ʼn langer pouse tussen die eerste en tweede skoot as die daaropvolgende skote.

Die staat poog om te bewys dat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het. Hy word ook beskuldig dat hy die Vuurwapenwet oortree het. Pistorius voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.

Volg al die hooftrekke van die Oscar Pistorius-verhoor gratis op Maroela Media.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.