Oscar: Polisie stel hul kant van ondersoek

Oscar se huisplan word nagegaan. Die foto is deur @kristenvanschie op Twitter gelaai.

Oscar Pistorius se borgaansoek het Woensdag, na ʼn uurlange vertraging as gevolg van tegniese redes, in die Pretoriase landdroshof hervat.

Adv. Gerrie Nel, namens die staat, het gesê hulle is in besit van ʼn verklaring wat sê dat ʼn rusie wel voor die skietvoorval tussen Oscar (26) en sy meisie, Reeva Steenkamp (29), plaasgevind het. Oscar se regsverteenwoordiger, adv. Barry Roux, het Dinsdag gesê die staat moet bewys dat daar ʼn stryery was. “Ons het ‘n getuie wat beweer sy het die paartjie tussen 02:00 en 03:00 die oggend van die voorval hoor stry,” het Nel gesê.

Ao. Hilton Botha, die ondersoekbeampte in die saak, het getuig Reeva was reeds dood toe hulle by die toneel aangekom het. Sy het ʼn wit kortbroek en swart moulose T-hemp aangehad en was met handdoeke bedek.

Volgens Botha is Oscar ʼn vlugrisiko omdat hy glo ʼn oorsese bankrekening het. “Toe ons op die toneel was, het Oscar se broer en prokureur ʼn kluis oopgemaak waarin dokument en ʼn geheuestokkie was met inligting van ʼn oorsese bankrekening. Dié inligting is nie in Oscar se verklaring bekendgemaak nie. As hy vlug, sal ons hom weer kry? Ons wil nie met nog ʼn Dewani-geval sit nie,” het Botha gesê. Botha het verder aangevoer dat ʼn klag rakende die besit van ongelisensieerde ammunisie ook bygevoeg kan word nadat .38-ammunisie in Oscar se kluis gevind is.

Botha het daarna inligting oor die toneel bekendgemaak. Die polisie het ʼn oornagsak en pantoffels van Reeva in die kamer opgespoor. Stukke van die badkamerdeur het op die vloer gelê. Die polisie het ook beslag gelê op patroondoppies en die beweerde moordwapen. Drie patroondoppies is in die badkamer opgespoor, en een in die gang buite die badkamer. Al vier skote is deur die toiletdeur geskiet. Botha sê Oscar het glo die krieketkolf gebruik om die deur oop te breek. Die polisie het ook op vier selfone beslag gelê, twee iPhones en twee BlackBerry-selfone. Daar was glo geen teken dat enige van die selfone gebruik is om die landgoed se sekuriteit of die nooddienste te skakel nie.

Botha sê verder dat die skieter sowat 1.5 meter van die deur af moes gestaan het toe hy die skote afgevuur het, en dat die persoon van ʼn sekere hoek af moes skiet om iemand, wat op die toilet sou sit, raak te skiet. “As hy net voor die deur gestaan en reguit geskiet het, sou hy die toilet gemis het.”

Reeva is drie keer raakgeskiet. Sy het skietwonde aan die regterkant van haar kop, onder haar oor, op haar heup en arm opgedoen. Een koeëlmerk is in die hoek van die toilet se muur aangetref.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amanda ·

Iets wat my laat wonder, hoe gaan haal jy ‘n waaier op die balkon sonder om ‘n lig, al is dit ‘n bedlampie aan te skakel as dit dan so “pitch dark” in die kamer was, soos hy beweer?En vir iemand wat so gevrees het vir sy lewe, hkm was die balkondeur daai tyd van die oggend nog oop en waarom is daar nie diefwering voor sy badkamervenster nie?? Vra maar net!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.