Oscar-regskostes glo reeds sowat R1,2 miljoen

Oscar Pistorius tydens sy borgaansoek. Foto: Werner Beukes/SAPA

Oscar Pistorius se regskostes tydens sy week in polisie-aanhouding het glo sowat R1,2 miljoen beloop.

Die afgetrede strafregkenner Tom Coetzee is in Beeld aangehaal waar hy gesê het dat Pistorius se borgaansoek minstens tussen R1 miljoen en R1,2 miljoen beloop het. Volgens Coetzee is dit ʼn “baie konserwatiewe” skatting. “Dit is egter nog net die begin. Daar sal tot en met sy volgende hofverskyning talle konsultasies plaasvind. Wanneer sy verhoor begin sal dié rekening soos kleingeld lyk.” Beeld berig ook vandag oor Pistorius se familie se finansiële belange. Volgens die berig het Oscar se oupa, Hendrik Pistorius (95), in 1944 ʼn mynonderneming begin. Hy en sy seuns besit tans glo sowat 120 ondernemings. Oscar en sy broer, Carl, is volgens Beeld mededirekteure in vier van dié maatskappye.

Beeld het ook berig dat Pistorius se familie ʼn voorliefde het vir wapens en dat hulle sowat 55 vuurwapens besit. Volgens die berig besit Pistorius se pa, sy drie ooms en sy oupa gesamentlik 55 vuurwapens. Sy pa, Henke, het vier vuurwapens wat in sy naam geregistreer is, sy oupa, Hendrik, het tien vuurwapens in sy naam terwyl sy oom Arnold ook tien besit, sy oom Theo besit 17 en sy oom Leo besit 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.