Oscar se verklaring

Reeva Steenkamp en Oscar Pistorius.

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius was vandag emosioneel toe sy verklaring oor hoe hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, geskiet het, aan die Pretoriase landdroshof voorgehou is.

“Ek ontken die voorafgaande bewering van moord in die sterkste terme,” het Pistorius in die 10-bladsylange dokument verklaar. Advokaat Barry Roux, lid van die verdedigingspan, het die verklaring aan die hof voorgelees.

Pistorius se weergawe van die gebeure word tydens sy borgaansoek aan die hof voorgehou. Die Staat is van plan om aan te voer dat dit moord met voorbedagte rade was.

“Ek verstaan nie hoe ek van moord aangekla kan word nie, veral nie moord met voorbedagte rade nie, aangesien ek geen intensie gehad het om my vriendin Reeva Steenkamp te vermoor nie.” Pistorius sê ook in die verklaring dat hy faktore aan die hof sal voorhou wat wys dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy op borg vrygelaat moet word, en dat die Staat nie enige “objektiewe feite” sal kan indien dat hy ‘n moord “beplan of vooraf bedink” het nie.

Hier volg ‘n gedeelte van die verklaring:

“Reeva sou op 13 Februarie saam met haar vriende uitgegaan het en ek sou met my vriende uitgegaan het. Reeva het my toe gebel en gevra of ons nie eerder die aand by die huis kan spandeer nie.

“Ek het ingestem en ons was tevrede om net ‘n rustige aandete saam by die huis te geniet. Omstreeks 22:00 op 13 Februarie 2013 was ons in ons slaapkamer. Sy was besig met haar joga-oefeninge en ek het in die bed sit en televisie kyk.

“Ek het nie my prostese aangehad nie. Ons was baie verlief en ek kon nie gelukkiger gewees het nie. Ek weet sy het dieselfde oor my gevoel. Sy het vir my ‘n geskenk vir Valentynsdag gegee, maar my gevra om dit eers die volgende dag oop te maak. Nadat sy haar oefeninge gedoen het, het sy in die bed geklim en ons het aan die slaap geraak.

“Ek is baie bewus van gewelddadige misdade wat deur inbrekers uitgevoer word. Ek het al vantevore doodsdreigemente ontvang. Ek was ook al ‘n slagoffer van geweld en ‘n inbraak. Ek het daarom my vuurwapen, ‘n 9mm Parabellum, onder my bed gehou wanneer ek saans in die bed geklim het.

“In die vroeë oggendure van 14 Februarie 2013, het ek wakker geword, na die balkon uitgestap om die waaier te gaan haal en die skuifdeur, blinders en gordyne toe te maak.

“Ek het ‘n geluid in die badkamer gehoor en besef iemand is in die badkamer. ‘n Gevoel van angs het oor my gespoel. Daar is geen diefwering oor die badkamervenster nie en ek het geweet dat kontrakteurs wat aan my huis gewerk het, lere buitekant agtergelaat het.

“Alhoewel ek nie my prostese aangehad het nie, kan ek op my stompies beweeg. Ek was oortuig iemand het my huis betree. Ek was te bang om die lig aan te skakel. Ek het my 9mm pistool onder my bed uitgehaal. Oppad na die badkamer het ek iets geskree soos dat die persoon uit my huis uit moet kom en vir Reeva om die polisie te bel.

“Dit was pikdonker in die kamer en ek het gedink Reeva is in die bed. Ek het opgemerk dat die badkamervenster oop is. Ek het besef dat die oortreder/s in die toilet moet wees, aangesien die toiletdeur toe was en ek nie iemand in die badkamer gesien het nie. Ek het beweging in die toilet gehoor. Die toilet is binne die badkamer met ‘n aparte deur.

“Ek was vreesbevange dat daar ‘n inbreker/s in die toilet was. Ek het gedink hy of hulle moes deur die onbeskermde venster ingekom het. Omdat ek nie my prostese aangehad het nie, het ek uiters kwesbaar gevoel en geweet ek moet myself en Reeva beskerm.

“Ek het geglo dat, indien die oortreder/s uit die toilet sou kom, ons in uiterste gevaar sou wees. Ek het vasgevang gevoel, omdat my slaapkamerdeur gesluit was en ek beperkte beweegbaarheid op my stompies het.

“Ek het skote na die toiletdeur gevuur en vir Reeva geskree om die polisie te skakel. Sy het nie reageer nie, en toe ek het toe agteruit uit die badkamer beweeg, en my oë op die badkamer-ingang gehou.

“Dit was pikdonker in die slaapkamer en ek was nog steeds te bang om die lig aan te skakel. Reeva het nie reageer nie. Toe ek by die bed kom, het ek besef Reeva is nie in die bed nie. Ek het toe besef Reeva was moontlik in die toilet.

“Ek is terug na die badkamer en het haar naam geroep. Ek het probeer om die toiletdeur oop te maak, maar dit was gesluit. Ek het teruggehaas na die slaapkamer en die skuifdeur oopgemaak, op die balkon uitgegaan en om hulp geskree.

“Ek het my prostese aangesit, teruggehardloop na die slaapkamer en probeer om die toiletdeur oop te skop. Ek dink ek het toe die ligte aangeskakel.

“Ek is terug na die slaapkamer en ek het my krieketkolf gegryp om die toiletdeur in te slaan. ‘n Paneel of panele het afgebreek en ek het die sleutel op die vloer gekry en die deur oopgemaak.

“Reeva was vooroor gebuk, maar sy het nog geleef.

“Ek het gesukkel om haar uit die toilet te kry en het haar by die badkamer ingetrek.

“Ek het Johan Stander, wat in die administrasie van die landgoed betrokke is, geskakel en hom gevra om ‘n ambulans te ontbied. Ek het Netcare gebel en hulp gevra.

“Ek het toe ondertoe gegaan om die voordeur oop te maak. Ek is terug na die badkamer en het Reeva opgetel, aangesien ek aangesê is om nie vir die paramedici te wag nie, maar haar self na die hospitaal toe te neem. Ek het haar na die grondverdieping gedra om haar hospitaal toe te neem. Stander het intussen opgedaag. ‘n Dokter wat in die kompleks bly, het ook opgedaag.

“Ek het probeer wat ek kon om Reeva te help, maar sy is in my arms dood.

“Ek is absoluut geskok oor die gebeure en die verwoestende verlies van my geliefde Reeva.

“In retrospek is ek oortuig Reeva moes toilet toe gegaan het toe ek op die balkon uitgestap het om die waaier in te bring.

“Ek kan dit nie verdra om te dink watter lyding ek haar en haar gesin besorg het nie, omdat ek weet dat sy so geliefd was.

“Ek weet ook dat die gebeure van daardie tragiese aand is soos wat ek dit beskryf het en ek is oortuig dat die polisie en kundige speurders dit binnekort sal bevestig.”

Pistorius se borgaansoek duur Woensdag voort.

Lees ook:
Oscar se weergawe
Nike, Oakley verbreek glo bande met Oscar
Oscar-borgsaak kry groot terugslag
Reeva ter ruste gelê
Oscar: Moord was nie beplan nie, sê verdediging
Oscar: Niks ondersteun inbraak-verweer nie, sê aanklaer
Oscar in hof, Reeva veras
Oscar se wedlope gekanselleer
Pistorius-familie: ‘Steenkamp se dood was ʼn ongeluk’
Bebloede kolf glo in Oscar se huis opgespoor
Reeva se nadoodse ondersoek afgehandel
Polisie glo bang Oscar pleeg selfmoord
Oscar: Media in moeilikheid oor foto
Reeva se gedenkdiens gereël
Oscar se gesin betwis moordklag
Oscar bly in aanhouding
Oscar het Reeva glo deur toe badkamerdeur geskiet
Pistorius vandag in hof
Oscar: M-Net onttrek advertensieveldtog 
Oscar-skietery: Ooggetuies beweer paartjie het gestry
Oscar gaan aand in tronk spandeer
Oscar: Staat gaan borg teenstaan
“Oscar erg geskok,” sê pa
Oscar-skietery: Medelye stroom in vir meisie
Oscar Pistorius skiet glo meisie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.