Ouers vra gebed vir siek dogtertjie voor troue

Corlia en Chloe Laney.

Die 1-jarige Chloe Laney is ʼn dapper vegtertjie wat die grootste deel van haar kort lewe tot dusver in hospitale moes deurbring. Haar pappa en mamma trou binnekort, maar sy sal nie in dié vreugdevolle geleentheid kan deel nie. “Sy is net te siek. Sy het ‘n trageotomie-pypie en met haar vatbaarheid vir infeksies is dit nie moontlik om haar uit die neonatale eenheid te neem nie,” sê haar ma, Corlia.

Chloe, wat deur haar ma beskryf word as “die gesin se skoenlapperprinses”,  is op 7 Julie 2011 op 27 weke gebore. “Sy was ‘n baie siek baba en haar longetjies wou glad nie ontwikkel nie. Sy was omtrent tien dae aan masjiene gekoppel. Die pad van vroeggebore babas het baie op- en afdraandes,” sê sy.

“Sy het katarakte op albei haar ogies ontwikkel en haar lensies moes afgesny word. My bekkie moet kontaklense dra tot sy omtrent 6 is, voor permanente lense moontlik ingeplant kan word. Haar immuunstelsel is baie laag. Sy het ook ‘n verhoogte verhemelte en kan nie aan ʼn bottel of fopspeen suig nie. Dit kan ook eers kosmeties herstel word sodra sy ouer en sterker is.”

Teen Chloese eerste verjaardag het sy reeds 312 dae in die hospitaal deurgebring. Chloe het op 27 Augustus vanjaar baie siek begin word en is kort daarna in die Sandton MediClinic in Johannesburg opgeneem waar sy aan ventilators gekoppel is. “Sy het elke dag net agteruit gegaan en ons moes besluit of ons haar kunsmatig aan die lewe wil hou, of nie. Ek en my man het lank en ernstig gesels en besluit ons gaan aanhou veg en haar help so ver as wat ons kan. Sy is baie kritiek en in gevaar, maar haar dokter is gelukkig dat sy stabiel is. Sy doen elke dag ʼn bietjie beter. Sy is onder sterk verdowing en die masjiene hou haar tans aan die lewe. Ons het baie gebed nodig dat Chloe sal herstel sodat ons as familie weer saam by die huis kan wees,” sê Corlia.

Die gesin woon in Welkom. Haar pa, Henry, en haar boetie, JT, bly deur week daar en kom naweke by haar kuier. Corlia bly in ʼn woonstel op die perseel van die hospitaal. Corlia en Henry trou op 27 Oktober vanjaar. Chloe het ʼn nuwe feetjierokkie en skoentjies gekry vir ʼn spesiale fotosessie in die hospitaal saam met haar ouers voor die troue.

ʼn Groep is op Facebook vir haar gestig om die gesin met finansiële kostes te help, asook om die gesin te ondersteun en bemoedig. Kliek hier vir meer inligting en bankbesonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.