Pierre Korkie, wat deur Al-Kaïda-militante in Jemen ontvoer en as gyselaar aangehou word, is lewend.
“Mnr. Pierre Korkie is lewend. Ons het ‘n bevestiging ontvang. Ons inligting is dat hy lewe,” het Ebrahim Ebrahim, die adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Donderdag aan verslaggewers in Pretoria gesê.
Agt ander uitlanders word as gyselaars in Jemen aangehou in gebiede wat buite die Jemen-regering se beheer is. Ebrahim het Pierre se ontvoering as ʼn geval van “miskende identiteit” beskryf, aangesien Suid-Afrikaners nie gewoonlik geteiken word nie.
“Owerhede in Jemen, wat ervaring het om sulke situasies te hanteer, het beklemtoon dat die motief vir die ontvoering nie polities van aard is nie. Ons bevestig weereens dat die Suid-Afrikaanse regering nie met terroriste onderhandel nie en lospryse onder enige omstandighede betaal word nie.”
Hy het Suid-Afrikaners versoek wat oorsee reis, veral na gebiede waar daar konflik is, om versigtig te wees en by die Suid-Afrikaanse ambassades daar te registreer.
Ebrahim het Woensdag ʼn emosionele pleidooi op ʼn Jemense televisiestasie gelewer dat militante wat vir Pierre ontvoer het, hom moet vrylaat.
Die Al-Kaïda millitante het later deur ʼn teksboodskap kontak gemaak waarin hulle op die losprys van $3 miljoen (nagenoeg R32.5 miljoen) aandring. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het gesê media in Jemen het berig dat die Suid-Afrikaanse regering met die groep gaan onderhandel maar dat niemand hulle al genader het nie. Sooliman het gesê sy organisasie het ʼn teksboodskap teruggestuur en gesê dat die Suid-Afrikaanse regering sowel as alle ander regerings nie met ontvoerders onderhandel of lospryse betaal nie.
Pierre en sy vrou, Yolande, is in Mei verlede jaar in Taiz ontvoer nadat hulle vir Amerikaanse toeriste aangesien is. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat sonder dat daar ʼn losprys vir haar lewe betaal is.