Plaasaanvalle: Bobby van Jaarsveld en ander kunstenaars veg voort

“Selfs al word betogings gehou om toe te sien dat landsburgers se regte beskerm word, moet mense steeds stappe doen om hul lewens teen misdadigers te beskerm,” sê Bobby van Jaarsveld.

Dertig kunstenaars, waaronder Bobby en Karlien van Jaarsveld, Steve Hofmeyr, Emo Adams en Rozanne Mekenzi, het op 19 Junie saam met honderde ander Suid-Afrikaners na die Uniegebou gestap uit protes teen die hoë misdaadsyfer in die land. AfriForum het dié inisiatief ondersteun.

Tydens die betoging is ’n memorandum aan die presidensie oorhandig waarin geëis is dat daadwerklike stappe gedoen moet word om misdaad in Suid-Afrika hok te slaan.

Maroela Media het Dinsdag berig dat president Jacob Zuma slegs die staptoggangers se pleidooie na Nathi Mthethwa, die minister van polisie, verwys het.

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, is die president se reaksie ’n duidelike teken dat hy nie in voeling is met gewone Suid-Afrikaners nie. AfriForum het Woensdagoggend, namens die kunstenaars, ’n formele vergadering met minister Mthethwa aangevra om die memorandum te bespreek.

“Ons is nie tevrede met die presidensie se antwoord nie. President Zuma bly die een wat uiteindelik verantwoordelik is vir ons veiligheid, en as dit beteken dat ons meer staptogte moet organiseer, sal ons dit doen,” het Jansen van Rensburg gesê.

Volgens Bobby van Jaarsveld, wat namens die betogers die memorandum oorhandig het, sal Suid-Afrikaners hul stemme harder moet laat hoor. “Suid-Afrikaners moet aanhou om druk op die regering te plaas totdat hulle gehoor gee aan ons eis om in ’n veilige land te leef,” het Van Jaarsveld bygevoeg.

AfriForum kondig Dinsdag 28 Augustus ’n veldtog aan waarin die organisasie gewone Suid-Afrikaners gaan aanmoedig om betrokke te raak in hul gemeenskappe om sodoende misdaad te help bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.