Plaasaanvalle: Presidensie plaas onus op minister

Bobby van Jaarsveld oorhandig die memorandum op 19 Junie

Die presidensie het die burgerregte-organisasie, AfriForum, se pleidooie rondom plaasaanvalle na Nathi Mthethwa, die minister van die polisie, verwys.

Dit volg nadat AfriForum saam met verskeie inwoners en bekendes op 19 Junie vreedsaam na die Uniegebou opgeruk het om teen misdaad te betoog.

Tydens die betoging is ʼn memorandum aan die presidensie oorhandig. Dit eis ondermeer dat die regstelsel reggeruk en doeltreffend bestuur moet word; dat gevangenes nie meer kwytskelding van tronkstraf moet ontvang nie; dat plaasmoorde as prioriteitsmisdaad geklassifiseer word; en dat die regering sy onderneming gestand doen en spesialiseenhede vir landelike veiligheid instel. (Lees die volle memorandum hier).

Drie plaasaanvalle sedert Sondagaand het weer emosies oor plaasaanvalle laat vlamvat.

Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se hoof van gemeenskapsake, het aan Maroela Media gesê hulle is in die proses om ʼn vergadering met Mthethwa te belê om die memorandum te bespreek. “Ons sal aanhou betoog. Ons stuur binnekort ons Stop die Moorde-veldtog van stapel. Intussen sal ons, ons gemeenskap bystaan en aanmoedig om verantwoording te neem vir hulle eie veiligheid,” het hy gesê.

AfriForum het onlangs ʼn beroep op kunstenaars en ander meningsvormers gedoen om hul stemme by dié organisasie se veldtog te voeg om plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te laat verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid tot stand te laat bring. Verskeie sangers het geantwoord dat hulle by die veldtog sal inskakel. Die kunstenaars sluit Steve Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld, Gerrie Pretorius en Adam Tas in.

Die Stop die Moorde-veldtog sal op landelike veiligheid en plaasmoorde fokus. Die veldtog sal daarop gerig wees om die publiek te bemagtig om ook hulle deel te doen om misdaad in hul gemeenskappe aan te pak. Die publiek sal onder meer aangemoedig word om beter na hulle veiligheid om te sien deur by gemeenskapsveiligheidsnetwerke in te skakel en te help om druk op die regering te plaas om plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad te laat verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.