Polisieman in hof na moord op Chanelle Henning

ʼn Polisiebeampte, Gerhardus Petrus du Plessis (34) is in Woensdag in die Pretoria landdroshof aangekla van die moord op Chanelle Henning.

EWN berig dat Du Plessis ook aangekla is van sameswering om moord te pleeg en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Du Plessis, wat ʼn geel trui aangehad het, het ʼn hemp gebruik om sy gesig toe te hou. Landdros Desmond Nair het hom egter gevra om die hemp voor sy gesig weg te vat voor hy gewaarsku is oor die ernstige aanklagtes teen hom. Die polisie het vroeër Woensdagoggend bekendgemaak dat vier verdagtes in verband met die moord in hegtenis geneem is. Du Plessis is ʼn beampte by die Hercules-polisiestasie, wes van Pretoria. Hy word glo reeds ondersoek nadat hy twee moorddossiere gesteel het. Du Plessis het glo die moordwapen se sneller getrek. Hy is Maandag geskors. Sy drie medebeskuldigdes sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn. Du Plessis se saak is uitgestel tot 23 November vir verdere ondersoek.

Die polisie sê die motorfiets waarop die verdagtes die oggend van Henning se moord gery het, is nog nie opgespoor is nie. ‘n Emosionele roudiens is Maandag vir Henning in Hartbeespoort gehou. Die polisie het einde verlede week identikits uitgereik van die twee mans wat Henning glo in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet het. Henning is verlede week doodgeskiet kort nadat sy haar seuntjie, Benjamin (5), by die Morning Star Montessori-kleuterskool afgelaai het. Twee mans op ʼn motorfiets het Henning glo agtervolg en haar deur die venster van haar motor doodgeskiet. Henning het glo vroeër vir haar ouers gesê sy vermoed sy word agtervolg. Die motorfietsryers is glo voor die moord in die omgewing opgemerk. Henning se ouers het intussen volgens berigte toesig verkry oor Benjamin nadat hy eers in ʼn plek van veiligheid geplaas is na die moord op sy ma. Rapport het Sondag berig dat Benjamin glo sy ouma en oupa vertel het dat hy die moord aanskou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.