Potch-raadslede met hofdokumente bedien

Annette Combrink, burgemeester van Tlokwe-munisipaliteit

Die ANC het Woensdag hofdokumente op 48 raadslede van die Tlokwe-munisipaliteit (Potchefstroom) bedien, nadat burgemeester Maphetle Maphetle ontsetel is, het die DA gesê.

“Die dokumente is op 26 ANC-raadslede, 19 DA-raadslede twee raadslede van Vryheidfront Plus, en een van die Congress of the People, bedien,” het Chris Hattingh, leier van die DA in Noordwes, gesê.

Maphetle en Barei Segotso, speaker van Tlokwe, het die dokumente by die Pretoriase hooggeregshof ingedien.

Volgens Hattingh sal die DA namens sy raadslede op die aansoek reageer en oorweeg hulle ʼn teen-aansoek. “Alhoewel ons met ons poging voortgaan om Maphetle en sy voormalige burgemeesterskomitee se onwettige beset van die munisipale kantoor te beëindig, gaan ons intussen ook voort om die Tlokwe-munisipaliteit te herstel om dienste te lewer.”

Gordon Kegakilwe, waarnemende sekretaris van die ANC in Noordwes, het Maandag gesê die party het dokumente ingedien. Die ANC het versoek dat verlede week se raadsvergadering, waar Annette Combrink, raadslid van die DA, tot burgemeester verkies is, nietig verklaar moet word. Die ANC erken Combrink nie as burgemeester nie en het gesê dat Maphetle steeds dié pos vul.

Combrink is verlede week Dinsdag, vir die tweede keer sedert November 2012, as nuwe burgemeester aangewys. Hattingh het in daardie stadium gesê 29 raadslede van alle partye, insluitend die ANC, het eenparig besluit om Combrink aan te stel.

Die ANC se tugkomitee het verlede week Woensdag 14 van sy raadslede geskors wat teen Maphetle gestem het. Hulle is ook as raadslede in Tlokwe afgedank. Die ANC het Maandag tydens ʼn vergadering in Potchefstroom ses nuwe proporsionele verteenwoordigende lede vir die munisipaliteit aangewys.

Plaaslike verkiesings word binnekort gehou om nuwe wyksraadslede aan te stel.

Lees ook:
Video: Oud-Potch-burgemeester weier om te ontruim
ANC skors Tlokwe-raadslede
Oud-burgemeester weier glo om kantoor te verlaat
Voormalige Tlokwe-burgemeester gereed om terug te veg
DA weer in beheer in Potch
DA verloor Tlokwe-burgemeesterspos
Noordwes kry eerste DA-burgemeester

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.