President ontken gerugte oor Mdluli-brief

Richard Mdluli

Die presidensie ontken gerugte dat president Jacob Zuma ʼn brief van Richard Mdluli, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ontvang het waarin Mdluli oor ʼn “komplot” teen hom skryf.

Mdluli is Woensdag uit sy pos geskuif. Nathi Mthethwa, minister van polisie, het bekend gemaak dat Mdluli na ʼn ander posisie verskuif sal word wat deur die waarnemende nasionale kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, bepaal sal word.

“Berigte in die media beweer Mdluli het vir die president ʼn brief gegee waarin hy glo skryf dat vier top polisieoffisiere besig is met ’n komplot om van hom ontslae te raak. Die president en die presidensie het egter nooit so brief gekry nie,” het die presidensie Vrydag in ʼn persverklaring bekend gemaak.

“Daar is ook berigte wat insinueer die president Mdluli as nasionale polisiekommissaris wil aanstel. Generaal Bheki Cele bly tans die nasionale polisiekommissaris en die president het nog geen planne om ʼn nuwe kommissaris aan te stel, bekend gemaak nie.”

Die brief waarna verwys word, is glo reeds in November aan Zuma, Mthetwa en Mkhwanazi gerig. Na wat verneem word skryf Mdluli dat Cele, lt.genl. Anwa Dramat, nasionale hoof van die Valke, lt.genl. Mzwandile Petros, Gautengse polisiehoof, en lt.genl. Godfrey ­Lebeya, hoof van prioriteitsondersoeke, teen hom saamsweer.

Mthetwa het Vrydag ʼn taakspan aangekondig wat alle beweringe oor en in die brief gaan ondersoek.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.