President sê 13 soldate is dood

Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het Maandagoggend tydens ‘n perskkonferensie bekendgemaak dat 13 Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek doodgeskiet is.

Zuma het gesê 27 soldate is beseer en een word steeds vermis nadat rebelle die hoofstad Bangui oor die naweek oorgeneem het.
Maroela Media het vroeër berig brig.gen. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, het gesê rebelle het Saterdag met soldate slaags geraak by ‘n weermagbasis aan die buitewyke van Bangui. Die hoofstad is later deur die rebelle oorgeneem en president François Boizizé het saam met sy familie gevlug. ʼn Vredesooreenkoms is in Januarie onderteken waarvolgens Bozizé toegelaat word om sy termyn wat in 2016 verstryk, te voltooi. Die rebelle beskuldig Bozizé egter daarvan dat hy nie aan die beloftes, wat gemaak is, voldoen nie.
Volgens Mabanga ontplooi Suid-Afrika sedert 2007 troepe in die SAR nadat ʼn memorandum van verstandhouding deur die twee lande onderteken is. President Jacob Zuma het in Januarie meer troepe na die SAR ontplooi nadat veiligheid in die land agteruitgegaan het. Mabanga sê hy kan egter om “veiligheidsredes” nie bekendmaak hoeveel Suid-Afrikaanse troepe in die SAR ontplooi is nie.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Weermag-unie (Sawu) vroeër vandag gesê president Zuma moes die land se soldate onttrek het toe Bozizé nie die vredesooreenkoms nagekom het nie. Pikkie Greef, die woordvoerder van die unie, sê die soldate moes dadelik onttrek word, selfs al sou dit militêre optrede behels om hulle uit die land te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.