Pretorianers moet eie grafte grawe

Pretorianers moet self die grafte van hul geliefdes grawe, aangesien ʼn kontrak met die Tshwane-metro se grafgrawers verstrek het.

Begrafnisondernemers het bevind dat grafgrawers by al Tshwane-metro se begraafplase hul gereedskap aan die einde van Maart neergelê het, het The Times Donderdag berig. Dit het die onus op die begrafnisondernemers en die familie en vriende van afgestorwenes geplaas om self grafte te grawe en toe te gooi.

Elsabe Basilio, die voorsitter van die Nasionale Begrafnis-direktoraat, het gesê dit is baie traumatiserend. “Begrafnisse kan nie uitgestel word nie. Ek het onlangs ʼn begrafnis gehad waar ek en my personeel spesiaal vroeër moes opdaag om ʼn graf te grawe,” het sy gesê. Basilio sê een begrafnisondernemer het Woensdag die liggaam van iemand in ʼn oop graf net so gelaat en gesê die metro moet hul eie probleme uitsorteer.

Volgens Basilio het die metro se kontrak met die kontrakteur Desember geëindig. “Die kontrakteurs het intussen ooreengekom om uit te help terwyl die metro besig was met ʼn nuwe tenderproses. Die kontrakteur is egter vir die afgelope drie maande nie betaal nie en weier om verder te help,” het sy gesê.

Basilio se organisasie gaan Donderdag ʼn dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof indien om die munisipaliteit te dwing om grafgrawers te huur.

Nomasonto Ndlovu, ʼn woordvoerder van die Tshwane-metro, het gesê hulle is nie bewus van die situasie nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.